Na aanleiding van Psalm 145:8-9, 14-21 (lees 2020-vertaling)
Here, Dawid se loflied verwoord Israel se ervaring van hul reëlmatige lewe deur u sorg. Hul ervaring van u oorvloed en vrygewigheid wek dankbaarheid as enigste gepasde reaksie op u betroubaarheid én dit laat hulle loflied aan U opklink.
Ons lofliedere word diep binne ons opgewek, Here. Dit is ons spontane reaksie wanneer ons bewus word ons tye is georden volgens u ritmes en patrone. Sulke ervarings van stabiliteit herinner ons aan wie U is en
aan geleentrhede waar U ons versorg het.
Maar, Here, daar is ook tye wanneer die orde van u goeie wêreld versteur word. Wanneer die gang van ons lewe die patrone van u tye omwoel, is die wêreld nie vir ons die plek waar ons u seën ervaar nie.
Die ironie, Here, is dat ons juis in tye van ontwrigting en disoriëntasie aangespoor word om te besin oor waarom ons in stabiele tye lofsange tot U aanhef. Te midde van ontwrigting besef ons op ’n vreemde manier dat Uself die vaste punt vir ekwilibrium is. U is goed vir almal!
Here, die Psalmis help my met taal en voorbeelde om my eie lysie te maak van wat U oor Uself aan my openbaar het en wat ek al persoonlik uit u hand ervaar het. Ek kán bely: U is genadig, barmhartig, geduldig. trou in u liefde.
Wat my opnuut opval in die Psalmis se lied, Here, en wat ek herken uit my eie lewenstog, is dat u goedheid wyd is. U sluit almal in en ontsien nie een aspek van u werk nie. Die Psalmis kan u inklusiewe barmhatrtigheid nie genoeg beklemtoon nie. U help almal wat val; laat hul regop kom.
Here, dit is juis hierdie eienskap van u Goddelike karakter wat ons in worsteltye moed gee en versterk. Omdat U in troue liefde barmhartigheid betoon aan almal wat met verwagting hul oë op U rig, roep ek met vertroue na U.
Dankie vir die versekereing wat U opnuut gee aan almal wat U liefhet, Here: U is naby almal wat U aanroep. U hoor ons hulpgeroep en verlos ons.
Amen
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
RCL JAAR A – TIENDE WEEK VAN KONINKRYKSTYD