‘Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief.’ Efesiërs 2:4
Te veel mense leef met die oortuiging dat God vir hulle kwaad is. Dat Hy met ’n kwaai frons hulle doen en late dophou en net wag vir ’n geleentheid om die blinde sambok te laat klap. Hulle glo dat hulle Hom so teleurgestel het, dat Hy nie veel omgee wat van hulle word nie.
Niks kan egter verder van die waarheid wees nie.
Jesus het hierdie denkwyse lankal reeds verkeerd bewys. Ons lees in Lukas 15 dat die tollenaars en sondaars gereeld na Hom kom luister het. Toe die Fariseërs en skrifgeleerdes hieroor kla, het Hy vir hulle die gelykenis van die verlore skaap vertel. (Luk. 15:1-7)
Op ’n ander keer was die Fariseërs weer ongelukkig daaroor dat Jesus saam met tollenaars en sondaars eet, en hierop was sy verweer:
‘Maar Jesus het dit gehoor en gesê: “Dié wat gesond is, het nie ‘n dokter nodig nie, maar dié wat siek is. Gaan leer wat dit beteken: ‘Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie.’ Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars.”’ Matteus 9:12-13
Jesus het ook die gelykenis van die verlore seun vertel om te illustreer hoe groot die Vader se liefde en genade is. Uit hierdie gelykenis leer ons dat God die pad staan en dophou, gereed om diegene wat na Hom toe terugkeer met ope arms te verwelkom. (Luk. 15:11-32)
Moenie die leuen glo dat jy eers jou lewe moet regruk voordat jy jou tot God mag wend nie. Die waarheid is, jy kan nie.
Geen mens kan uit sy eie krag waardig genoeg wees om voor God se troon te kniel nie. Dit is waarom Jesus mens geword het. Hy het juis sy lewe as volmaakte offer gegee sodat jy met God versoen kan word.
Niks wat jy ooit gesê of gedoen het, kan Jesus se offer ongedaan maak nie. Hierdie offer laat jou silwerskoon en heilig voor Hom staan.
‘Ook julle was voorheen ver van God af en vyandiggesind teenoor Hom, soos blyk uit julle sondige lewenswyse. Maar nou het Hy ook julle met Homself versoen deurdat sy Seun as mens gesterwe het om julle heilig, sonder smet en onberispelik voor Hom te stel.’ Kolossense 1:21-22
So, onthou, jy is nie buite God se bereik nie. Daardie vlek op jou lewe is nie te hardnekkig vir Jesus se bloed nie. Jy kan vandag sy Naam aanroep – Hy wag vir jou.
‘Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.’ Romeine 5:8
Geskryf deur Madeleine Venter