Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

Ek lees die ander dag die lewensverhaal van Erick Hill. Dit laat my aanhou dink vir ‘n hele paar dae. Erick is 28 jaar oud en het pas sy graad ontvang na studies. Die gesonde, atletiese jong man is bekend in die gemeenskap. Elke keer as hy die winkel uitstap hoor jy sagte gefluister van jong dames, en ‘n paar ouer dames, want die aantreklike man glimlag altyd en groet vriendelik.

Hy het reeds verskeie aanbiedeninge gekry van groot firmas vir werk so sy loopbaan begin op ‘n hoogtepunt. Wyl hy van buite gemaklik en gelukkig vertoon, is dit donker en woelig binne in sy gemoed. Die stemme wil nie ophou praat en raas nie, en die prentjies wat hy sien raak net donkerder en donkerder. Terwyl hy mooi glimlag en skaam groet, worstel hy met die intense behoefte om net weg te stap van alles af, net te verdwyn.

Op ‘n reënerige oggend in Februarie 1982, stap Erick oor die drumpel van sy ouerhuis se agterdeur. Hy stap eenvoudig weg van alles, en kom nooit weer terug nie!

Sy suster, Debbie, vertel hoedat sy hom gesien loop het, soos vele kere vantevore, straataf, oppad iewers heen. Soos gewoonlik sonder praat of verduidelikings. Sy weet dat hy later sal terug wees en miskien ‘n geselsie sal kom opsoek. Maar hierdie keer kom hy nie terug nie. Sy glo en hoop dat hy sal bel, maar hierdie keer doen hy nie. Sy het geglo dat sy hom sal kan opspoor, sy kon nie! Waar Erick gaan stap het, het net hy en God geweet.

Al wat bekend was, is dat Erick die stem en opdrag in sy kop gehoor het om Texas toe te gaan. Daar het hy langs die San Antonio-snelweg, papiere en gemors opgetel en die veld rondom die snelweg, opgeruim en skoon gehou. Mense het hom leer ken as die man met die lang baard, die man met die geskeurde klere, die man met die vullissak oor sy skouer.

Sestien jaar later loop hy van sy selfgeboude ‘shack’ in ‘n oop stuk veld, weer en skoonmaak. Motoriste kom en gaan. Die volgende oggend vroeg sien ‘n motoris, wat elke keer vir Erick groet, hom langs die hoofweg op die grond lê, in ‘n bondeltjie opgekrul. By die hospitaal vind hulle uit dat Erick se intense maagpyn, kolonkanker is. Op die internet spoor hulle vir Debbie op, want haar verlore broer pas die beskrywing en so na 16 jaar staan hulle weer voor mekaar. Al herken Erick haar glad nie.

Dadelik toe Debbie hom ontmoet, steek sy vir hom ‘n borsspeld van ‘n engeltjie aan. Dit is die engeltjie wat haar ma vir haar gegee het om haar broer te onthou en altyd naby haar te hou. Sy het daarna Texas toe gegaan om hom te versorg en te help, tot die dag van sy dood. Erick het haar glad nie herken nie en haar geskel, gevloek en ook weggejaag uit sy kamer, maar Debbie het nooit opgegee nie. As mense gevra het hoekom sy dit doen, het sy net met deernis en liefde geantwoord: “Hy is my broer!”

Ek dink aan ‘n ander persoon wie ook so sy familie gaan soek het, opgespoor het en net deernis en liefde gegee het. Hy kon sien hierdie familie het seer en is soekend alleen. Die dag toe Jesus ons gekry het, was ons ook deurmekaar en moeilik en wou ons niks met Hom te doen gehad het nie. Ons het getwyfel of Hy werklik bestaan.

Soos Debbie vir Erick gevolg en gesoek het, doen God ook met elkeen van ons. Hy volg ons, soek ons, totdat ons uiteindelik Hom raaksien vir wie Hy is. Ons Pa, Verlosser en Saligmaker. Al vat dit ook “…al die dae van ons lewens”.

“U goedheid en liefde sal my volg al die dae van my lewe en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.”

Goedheid en Liefde is soos twee geestelike skaaphonde wat agter die skape loop om die trop te beskerm teen aanslagte van agter. Hulle loop nie alleen nie, want hulle is een. Die Goedheid van God wat redding bring en Sy Liefde, sag, genadig en oneindig.

Dit is God wie agter ons loop en ons volg waar ons ookal mag gaan, al die dae van ons lewens. Dit is amazing om te weet dat God ons nooit los nie, ons nooit stop as ons in ‘n rigting wil loop nie. Hy volg ons en beskerm ons van agter terwyl Hy ons toelaat om Sy genade en liefde stukkie vir stukkie te ontdek en te beleef.

Regtig? Is God werklik ‘n God wie agter ons aanloop en ons heeltyd volg al vat dit die res van ons lewens om Hom te erken? Hoe lank hou Hy aan om agter ons aan te loop?

Tot in lengte van dae, ook vertaal as “al die dae van my lewe”. Wow, dit gaan nooit ophou nie want God gee nie op nie, maak nie saak in watter fase ek in my lewe is nie, Hy is daar. Vra maar vir Adam en Eva. Hulle kruip tussen die bosse weg en hoop God sien hulle nie, maar dan weerklink sy stem in die tuin in Gen 3:9: “Adam, Eva, waar is julle?” Moses drentel 40 jaar in die woestyn en op ‘n dag, terwyl hy oor sy skouer loer, brand die bos agter hom en dan hoor hy God se stem! God volg hom deur die woestyn. Jona kruip op die see weg in ‘n boot, God volg hom en roep hom terug. Lasarus was al drie dae in ‘n graf as Jesus hom roep om uit te kom.

God is die God wie volg en wie aanhou soek. Het jy al bewus geraak van Hom waar Hy agter jou aan loop?  Ek het Hom persoonlik lank gemis, net soos Erick, het ek ander prentjies in my kop gehad en stemme wat Hom nie herken of erken het nie.

Hy was egter daar.

Hy het my gevolg, Hy het agter my aangeloop, Hy het my met genade beklee al wou ek nie toegee dat ek Hom nodig het nie. Ons sukkel maar met die vertroue deel van ons verhouding met Hom. Ek probeer hierdie drie dinge onthou:

  • Vertrou jou geloof en nie jou gevoel of emosie nie. Dan sal Goedheid en Liefde jou volg al die dae van jou lewe.
  • Bepaal jou eie waarde deur God se oë en nie deur jou eie nie. Dan sal Goedheid en Liefde jou volg al die dae van jou lewe.
  • God loop agter jou aan want jy is Sy familie en Hy is lief vir elkeen van ons. En Goedheid en Liefde sal jou volg al dide dae van jou lewe.

Die laaste paragraaf van Erick se verhaal is die mooiste van sy hele storie. ‘n Paar dae voor sy dood het hy vir Debbie herken. Hy het haar “Sussie” genoem en emosioneel gevra hoekom sy hom kom soek het.

“Hoekom het jy my kom soek?” En soos wat sy almal geantwoord het, het sy bloot gesê: “jy is my broer en vir jou is ek lief.”

Haar woorde was vir hom ‘n tuiskoms, terug in sy ma se kombuis, geen stemme verder nie.

God hou nooit ophou volg nie. God gee Sy liefde en redding sonder om kwaad te word as ons dit nie erken of aanvaar nie. Geduldig, vol Hoop en Liefde, stap God saam terwyl Hy al Sy krag van oortuiging gebruik om ons te help om Hom te sien vir wie Hy werklik is. Vir ons om te onthou dat ons Hom kan vertrou, sodat Hy saam met ons huistoe kan loop, daar waar ons veilig is – ons eie tuiskoms.

“U goedheid en liefde Sal my lewe lank by my bly” – Psalm 23:6

 

Geskryf deur Wynand Olivier