Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

Ons almal kan doen met goeie nuus, en vandag het ek baie goeie nuus om te deel.

Voordat ons egter hierby kan uitkom, moet ek ongelukkig eers slegte nuus deel. Die slegte nuus is dit: ‘Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie,’ en ‘Die loon wat die sonde gee, is die dood … ‘ (Rom. 3:23; 6:23a)

Almal is bestem vir die dood. Selfs goeie mense. Selfs die wat elke Sondag kerk toe gaan. Selfs die wat die Bybel van voor tot agter ken. Elke. Liewe. Mens.

Gelukkig is alles nie verlore nie. Wat ek vandag met jou wil deel, is die Evangelie. Die woord ‘Evangelie’ beteken letterlik ‘Goeie Nuus’, en hier is die goeie nuus: ‘Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.’ Romeine 8:1

Geen veroordeling nie. Daardie loon van die sonde – die dood – tel nie meer vir Christene nie!

En hoekom nie? Want ‘Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem.’ Kolossense 2:14

Jesus Christus, die Seun van God, het namens jou daardie sondeskuld betaal deur mens te word en aan ’n kruis te sterf. Sodat jy, wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. (Joh. 3:16)

Dit stop egter nie daar nie. Wat hierdie goeie nuus selfs nog beter maak, is dat Jesus Christus uit die dood uit opgestaan het. Hiermee het Hy die dood oorwin. Ons hoef dus nie meer die dood te vrees nie. Ons weet dat ons met Jesus se wederkoms weer sal opstaan. (Hand. 2:24, 32; Joh. 11:25-26; 1 Kor. 15:12-58)

In Ou-Testamentiese tye mag ’n priester net eenmaal ’n jaar agter die voorhangsel van die tempel ingegaan het om voor God te verskyn. Hierdie voorhangsel, was ’n baie dik gordyn wat die Heilige van die Allerheiligste geskei het.

Die dag toe Jesus aan die kruis gesterf het, het die voorhangsel egter van bo tot onder in die middel deur geskeur. Dit het gebeur as bewys dat Jesus die Weg na die Vader toe is. Deur sy kruisdood is daar nou vrede tussen ons en God, want die prys vir sonde is betaal. As Christen kan jy nou met vrymoedigheid en vertroue na God gaan. (Ef. 3:12)

As jy in jou hart weet dat jy nog nie daardie besluit gemaak het om Jesus Christus as jou Verlosser aan te neem nie, doen dit vandag. Sommer nou. Net daar waar jy sit en lees. Dit is so eenvoudig soos om met jou mond te bely en met jou hart te glo. Die res sal die Heilige Gees doen.

‘As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.’ Romeine 10:9

 

Geskryf deur Madeleine Venter