MATTEUS 15:21-28 (Lees die 2020-vertaling)

Met Revised Common Lectionary vertoef ons by ’n derde verhaal (15:21-28) in Matteus se vierde hoof deel (13:54-19:1 of 2) van sy vertelling oor Jesus se bediening. Ten spyte dat Jesus in dié deel begin onttrek van openbare interaksie en Hom tot sy kleiner groep dissipels wend vir hul geloofsvorming, bly die skares Hom volg wanneer Hy Hom wil afsonder. Na Jesus se eerste vermeerdering van brood en vis (14:13-21) op ’n plek van afsondering waarheen die skare Hom gevolg het, het Hy die skare weggestuur en sy dissipels verplig om in die boot na die oorkant van die see te vaar (14:22), waarna Hy teen die berg opgegaan en in afsondering gaan bid het (14:23). In die vierde nagwaak van daardie nag (tussen 3:00 en 6:00) het Jesus na sy dissipels in die boot op die water aangeloop gekom. Na ’n emosionele oomblik met Petrus het die dissipels in die boot Jesus herken en bely dat Hy waarlik die Seun van God is. (14:33).

Matteus 14:34 vertel Jesus en sy dissipels het oor die water gevaar en by Gennesaret aan wal gegaan. Weer het mense Jesus herken en die woord versprei, sodat almal wat siek was na Hom gebring is (14:35). Ongeag dat Jesus onopgemerk wou bly, het Hy almal wat gebring is aangeraak en genees (14:36). In die volgende toneel (15:1-20) word Jesus se privaatheid weer onderbreek, deur Fariseërs en skrifkenners wat met Hom wil twis oor sy dissipels wat die Joodse tradisie van die voorouers oortree deur nie hul hande te was wanneer hulle gaan eet nie (15:2) – dus onrein is. In reaksie ontbloot Jesus sy gespreksgenote as skynheilig, deur uit Jesaja 9:13 (vlg. Die Septuagint) aan te haal: “Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle harte is ver van My af” (15:8). Jesus beklemtoon dat die dinge wat mens onrein maak uit die hart kom, nie deur uiterlike rituele nie.

Dit bring ons by die ontmoeting tussen Jesus en ’n Kanaänitiese vrou in die streke van Tirus en Sidon, nadat hulle van Gennesaret vertrek het (15:21). Die geografiese verandering is betekenisvol. Jesus beweeg nou in heidense gebied in. Wéér word Jesus nie met rus gelaat nie. Die vrou nader Hom omdat sy in nood verkeer; haar dogter ly onder ’n demoon (vers 22). Dié heidense vrou spreek Jesus aan met die titel wat die Jode reserveer vir hul verwagte Messias: “Here, Seun van Dawid” (vers 22; Vgl. die dissipels se belydenis in 14:33). Sy pleit by Jesus om ontferming. Hy reageer aanvanklik deur haar ’n koue skouer aan te bied. Ook die dissipels reageer soos met die skare voordat Jesus hulle gevoed het (14:15), deur vir Jesus te sê om die vrou weg te stuur (vers 23). Jesus gee nie aan sy dissipels se versoek toe nie, maar wend Hom tot die Kanaänitiese vrou, met ’n vreemd afwysende uitspraak, waarop die vrou egter sodanig reageer dat Jesus haar aanprys oor haar geloof en haar dogter genees (vers 28).

Die gesprek tussen Jesus en die Kanaänitiese vrou in terme van die spreuk oor die kinders, hondjies, brood en krummels, is insiggewend. Die vrou se insig, wysheid en geloof bevestig ten diepste dat sy iets verstaan van Jesus se roeping en identiteit: “Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel” (vers 24). Jesus se opdrag van God was om die boodskap van God se verlossing vir die wêreld eerstens aan Israel, sy verbondsvolk te bring, sodat hulle die getuienis van God se nuwe lewe aan die ander volke en nasies moet bring. Die Kanaänitiese vrou verstaan Jesus se roeping klaarblyklik heel goed, asook sy interpretasie daarvan deur die gelykenis van die hondjies en brood. Sy herinner Jesus daaraan dat die Jode uiteindelik wel die boodskap van God se verlossing na die heidene sal bring, maar dat daardie toekomstige moment nou vir haar aangebreek het, omdat Jesus die gebied van die heindene betree en sy Hom in haar nood ontmoet het. Jesus hoor by hierdie vrou woorde wat uit die hart kom en dus getuig van háár reinheid; dat haar hart aan God verbonde is en dat sy vertrou op Jesus as haar Messias, wie haar dogter kan genees.

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Twaalfde week van Koninkrykstyd – Jaar A