‘Die man by wie daar op goeie grond gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit verstaan. Hy dra inderdaad vrug en lewer ‘n oes: soms honderdvoudig, soms sestigvoudig, soms dertigvoudig.”’ Matteus 13:23
Ons ken die gelykenis van die saaier baie goed. Jesus het vertel van ’n man wat eendag uitgegaan het om te saai, en dat die saad wat hy gestrooi het op verskillende plekke beland het. (Mat. 13:1-9; 18-23)
Van die saad het op die pad geval en is opgepik – daardie harte wat die Woord hoor maar dit nie verstaan, of ontvang, nie.
’n Deel daarvan het tussen die klippe beland waar dit vinnig opgekom het, maar nie lank gehou het nie – daardie harte wat nie tydens verdrukking en vervolging staande bly nie.
Nog ’n gedeelte het tussen die onkruid opgeskiet maar is gou deur die dorings verdring – dit is die harte wat steeds regeer word deur wêreldse dinge en sodoende nooit vrug dra nie.
En dan natuurlik die saad wat op vrugbare grond val, wortel skiet en ’n oes lewer. Jesus verduidelik dat dit die harte is wat die Woord hoor en verstaan.
Hoe lyk jóú hart?
In die era waarin ons leef hoor ons elke dag ontelbare stemme. Iewers tussendeur al daardie stemme is God se Woord ook.
Maar om God se Woord te hoor is nie dieselfde as om dit te ontvang nie.
Alhoewel slegs God geestelike groei kan meebring, is jy as gelowige steeds daarvoor verantwoordelik om die toestand van jou hart gereed te hou vir wanneer daardie Geestelike saad in jou hart gesaai word, sodat jy dit kan ontvang.
Boere berei die grond voor voordat hulle saai. Hulle verwyder klippe, trek onkruid uit en maak die grond los. Op dieselfde manier word Christene geroep om hulle harte gereeld te ondersoek en voor te berei.
Elke keer as jy God se Woord hoor, kry jy die geleentheid om daardie saad te laat wortelskiet en vrug te lewer tot eer van sy koninkryk. Daardie saad moet egter op vrugbare grond val.
Verwyder daarom die klippe en trek die onkruid uit. Laat die Heilige Gees toe om jou daarmee te help, selfs al beteken dit dat daar ’n paar harde plekke in jou hart is wat omgedolwe moet word.
Wie weet? Dit is dalk juis dáár waar die grootste oes opgelewer gaan word.