Ek het onlangs tydens ons vakansie vir die eerste keer die Europese “robin” gesien. Hierdie pragtige klein voëltjie met sy rooi borsie, wat met ons eie janfrederik vergelyk kan word, is sinoniem met my herinneringe aan Kerskaartjies. Dié gebruik was vir lank deel van die opwinding van die Kersseisoen. Vir baie jare het ons met Kersfees kaartjies vir vriende en familie gestuur, en elke jaar het kleurvolle kaartjies ons kaggel en vensterbank versier. En in die jaar wat kom het ons dikwels prente uit hierdie kaartjies gebruik om skooltake of ander projekte te versier.
Die einste vriende by wie ons die afgelope vakansie gekuier het, vertel dat hulle steeds Kerskaartjie stuur, maar self kan ek nie onthou wanneer laas ek een gestuur of ontvang het nie. Digitale boodskappe en kaartjies is deesdae vinniger, goedkoper en daarom meer gewild.
Die prentjies wat met hierdie digitale boodskappe saamgaan, is egter dikwels nog dieselfde. ´n Rooibors voëltjie op ´n takkie, geskenke onder ´n Kersboom, Kersvader, ´n takbok of vrolike sneeuman. Of, as jy ´n dieper boodskap wil oordra, ´n prentjie van Josef, Maria en die baba Jesus in ´n stal tussen al die diere; die skaapwagters, wyse manne of die Betlehemster.
Ons weet baie goed hoe hierdie kaartjies lyk. Ons herken die prentjies wat ons met Kersfees assosieer en wat iets van hierdie feestyd simboliseer.
En tog is hierdie pragtige, kleurvolle kaartjies eintlik onvolledig. Natuurlik is dit so dat ons Jesus se geboorte herdenk, en daarom opgewonde moet raak oor die gedagte aan hierdie baba se koms na die wêreld, die engele se verskyning aan die eenvoudige skaapwagters en die wyse manne wat so ver gereis het om die nuwe koning te ontmoet. En daarom is Kersfees beslis ook ´n tyd van kleur, lig en klank. ´n Tyd van blydskap, vrolikheid en saamwees. Van vrolike gesiggies en geskenke.
Maar ons mis iets van hierdie boodskap indien ons nie onsself ook op daardie kaartjies kan sien nie. My en jou gesigte, en ook die van ons gesinne, ons vriende en die gemeenskap waarin ons leef, moet ook op hierdie kaartjies wees. En veral ook die gesigte van die baie mense wat oor hierdie tyd swaar kry, deur oorlog, hongersnood of gure winterweer geraak word, of diegene wat nog nooit eers hierdie boodskap gehoor het nie.
Jesus het vir ons na die wêreld gekom. Vir ons en ons families. Vir die mense in Jerusalem en Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld. Vir die wat Hom ken, die wat Hom nog nie ken nie en diegene wat nog nie eers gebore is nie. Toe God sy Seun gestuur het, was jou en my naam reeds in sy gedagtes. Ons is deel van God se prentjie van Kersfees. Die hoop en verlossing was toe reeds vir ons bestem.
Ons Kerskaartjies moet dus baie persoonlik wees. Ons is deel van daardie verhaal. Dit is nie maar iets wat lank gelede gebeur het, of daar ver is nie. Die Kersverhaal is ook nuut, en van kardinale belang vir die tyd waarin ons leef. En dit is veral ons taak, ons roeping, om hierdie wonderlike evangelie verder te versprei en te sorg dat die boodskap nie net tot ´n dag of ´n seisoen beperk is nie.
Ek bid dat die Kersfeesverhaal jou diep sal raak – dat jy deel van hierdie prentjie, deel van hierdie verhaal sal wees. En veral dat hierdie verhaal in jou hart sal voortleef, sodat jy dit kan oorvertel, en self uitleef. Geseënde Kersfees.
Deur Susan Goosen