Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

Die ander dag vra my dogter hoe sy sal weet as iemand ’n slegte mens is.

Dis nogal ’n belangrike vraag. Veral in die deurmekaar wêreld waarin jongmense hulleself deesdae bevind.

In Matteus 12:35 sê Jesus: ‘Die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed goeie dinge in sy hart; die slegte mens bring die slegte te voorskyn uit die oorvloed slegte dinge in sy hart.’

Wat is hierdie slegte dinge waarvan Jesus praat? Die antwoord kry ons in Markus 7:21-22: ‘Van binne af, uit die hart van die mens, kom die slegte gedagtes: onkuisheid, diefstal, moord, owerspel, hebsug, kwaadwilligheid, bedrog, losbandigheid, afguns, kwaadpratery, hoogmoed, ligsinnigheid.’

’n Mens kan dus aanneem dat dit die dinge is waarvoor jy op die uitkyk moet wees in ander mense.

As jy egter eerlik is met jouself, besef jy dat jy self skuldig is aan ’n paar van daardie slegte dinge. Jy het dalk nie moord gepleeg nie, maar het jy al kwaad gepraat van iemand? Was jy ook al met tye ligsinnig in jou optrede? Of afgunstig?

Paulus brei die lys verder uit in Galasiërs 5:19-21. Hy noem dit die praktyke van die sondige natuur en dit sluit goed in soos vyandskap, haat, woede, dronkenskap, en uitspattigheid. Skielik is dit glad nie meer so onwaarskynlik dat daar met tye ook in jou lewe slegte dinge te voorskyn kom nie.

Die vraag is eerder: Hoe word iemand ’n goeie mens?

Hoe kan jy goeie dinge te voorskyn bring as jou sondige natuur dan vol slegte dinge is? Hoe kom daar ‘n oorvloed van goeie dinge in jou hart?

Die antwoord is, Jesus Christus.

‘Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig.’ Galasiërs 5:24

Wanneer jy Hom as jou Verlosser aanvaar, en jou hele lewe vir Hom gee, word jy weer gebore as ’n nuwe mens. Dan is jy nie meer ’n slaaf van jou sondige natuur nie. Nee. Jy is dood vir die sonde en lewend vir God.

Om lewend vir God te wees, beteken om in Christus te bly, en toe te laat dat die Heilige Gees jou gedrag bepaal.

Die goeie dinge wat dan uit jou hart te voorskyn kom, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.

‘Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.’ 2 Kor. 5:17

Onthou in hierdie week wat voorlê dat die sondige natuur nie meer baas oor jou is nie, en gaan wees ’n goeie mens.

 

Geskryf deur Madeleine Venter