“U wek ons op om dit te geniet om U te prys, omdat U ons gemaak het op U gerig.
Ons hart is onrustig totdat dit in U tot rus kom…”
Augustinus

Ek vra myself die laaste ruk werklik hierdie vraag:
Hoe vier ek die lewe?

Dadelik dink ek aan braai, kuier saam met vriende, lag – daardie oomblikke waar ek vir ’n rukkie kan ontsnap van die stres en die hardheid van die lewe. Ek kan saam met mense wees, musiek luister, lekker eet, stories vertel. Ons deel suksesse, ons lag, ons stry oor of die Bokke weer die beker gaan wen in 2027.

Vir ’n oomblik vergeet ek van siekte, pyn, finansies, kinders wat sukkel in die skool. Vir ’n oomblik voel dit asof ek die lewe vier – maar eintlik vergeet ek net vir ’n rukkie van die werklikheid.

Vir ’n kind van God is die viering van die lewe egter iets heel anders.

Om die lewe te vier, begin by die besef dat lewe en dood nooit werklik los van mekaar is nie. Vrees en liefde, vreugde en hartseer, trane en glimlag – hulle bestaan nie apart nie. Hulle loop saam.

Om die lewe te vier, is om te aanvaar dat die lewe al hoe kosbaarder word, nie net omdat ons dit kan sien, voel en beleef nie, maar juis omdat dit elke dag ’n bietjie korter word.

Ja, eendag hou die lewe op. Die vreugde van ’n huwelik, ’n lewenslange band, eindig by ’n oop graf. Ons kan by ’n troue huil — en by ’n graf glimlag.

Ons begin die lewe werklik vier wanneer ons besef dat dood en lewe nie teenstanders is nie, maar deel van dieselfde reis, twee fases wat mekaar daagliks omhels met deernis en begrip.

Die dag wat ons gebore word, word ons vry, maar ons verloor die veiligheid van die baarmoeder. So gaan die lewe aan: ons word meer onafhanklik, maak ons eie keuses, bou ons eie lewe. En dan, later, word ons weer afhanklik. Die liggaam word oud. Dinge raak moeiliker. Jy tree terug, en soms voel dit asof die lewe jou nie meer nodig het nie.

Eers wanneer ons hierdie hele spektrum begin verstaan – ontvang en verloor, groei en verswak – begin ons sien hoe naby lewe en dood aan mekaar lê.

En dan sê Jesus:
“Want elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind.” (Matt 16:25)

Om die lewe te vier, beteken ook om die seer van die lewe te kan vier. Die lewe is nie in watte toegedraai nie. Om die lewe te vier, is die teenoorgestelde van om daarvan weg te vlug.

Ek onthou die dag toe ek die oproep gekry het:
“Wynies, ek is jammer om hierdie oproep te maak… Ryan is dood vanoggend.”

Ek het die stoel gemis toe ek probeer sit. Ek het eers gedink dit is ’n grap, ek het selfs gelag. Maar toe tref die werklikheid my: Ryan is nie meer hier nie.

Dit was twee dae voor sy 21ste verjaarsdag. Vier dae voor myne. Ons sou saam die lewe vier – die oorgang na volwassenheid. En skielik was dit weg.

Die eerste stap om die lewe te vier, is aanvaarding van my huidige werklikheid.
Ek is hier. Nou. En ek sê ja vir dit.

Ons kan nie die lewe vier as ons nie in die oomblik leef nie.

Maar hoekom is dit so moeilik?

Ryan is nie meer hier nie. Hoe leef ek dit? Hoe vier ek sy lewe, sy menswees, sy deel van my storie?

Ons kan iets net vier as dit vir ons werklik is, as ons dit erken.

Ons kan nie Kersfees vier sonder ’n geboorte hier en nou nie.
Ons kan nie Paasfees vier sonder nuwe lewe nie.
Ons kan nie die Heilige Gees vier as ons nie Sy werking erken nie.

Om iets te vier, moet ek sê: dit is werklik – en ek aanvaar dit.

Maar om die lewe vandag te vier, moet ek ook my verlede kan erken.

As ek nie my verlede kan onthou nie, raak dit amper onmoontlik om my hede te aanvaar.

Ek dink aan ’n tannie en oom wat 60 jaar getroud was. Elke jaar op hul huweliksherdenking het hy haar vir ete geneem. Maar sy het Alzheimer gehad. Party aande het sy hom glad nie herken nie. Sy het bang geword, verward. Die restaurant het gedink hy dwing haar om daar te wees.

Sy kon nie meer haar lewe vier nie, want haar verlede was weg.
Die vreugde en die seer het nie meer saam bestaan nie. Net verwarring het oorgebly.

Niks is moeiliker as om ons eie lewe te aanvaar nie.
Ons ontken die hede.
Ons kla oor die verlede.
En ons verloor hoop vir die toekoms.

Maar dan kom Paasfees.

Jesus kom en breek die grense van tyd.
Die verlede word genees.
Die hede word sinvol.
Die toekoms word hoop.

Nou kan ek die lewe vier met alles wat dit bevat: vreugde én hartseer.
Nou speel ek op ’n veld waar lewe en dood nie teen mekaar speel nie, maar saam in dieselfde span is.

Paasfees herinner my:
my hart het in Hom tot rus gekom.

En dit is lewe.
En daarom vier ek dit.

Sy dood laat my die lewe vier.

Geskryf deur Wynand Olivier