‘As iets jou in sy mag het, is jy mos sy slaaf.’ 2 Petrus 2:19b (NLV)
Slawe het nie die vryheid om keuses uit te oefen nie, en kan ook nie kom en gaan soos wat hulle wil nie. ’n Slaaf word voorgesê en mag nie teëstribbel nie. So iemand kan ook nie enige genade of guns verwag nie. Al wat hulle te doen staan, is om hulle lot gelate te aanvaar.
Petrus praat in hierdie gedeelte spesifiek oor die mag van sonde wat mens onder ’n slawejuk plaas. Ons dink gewoonlik aan sonde in die lig van dinge soos alkohol en dwelmmisbruik, losbandigheid, moord, diefstal, oneerlikheid, ensovoorts.
Daar is egter minder sigbare sondes wat ons ook gevange kan hou sonder dat ons dit besef. Hoogmoed, humeurigheid, selfregverdiging, onvergewensgesindheid, verbitterdheid en selfbejammering. Hierdie sondes word gebou op die wankelrige fondasie van my eie-ek.
Oor elk van hierdie ingesteldhede kan daar nog baie geskryf word. Maar my fokus vandag is op hoe dit jou vryheid steel en van jou ’n slaaf maak. Dit bepaal alles, van hoe jy optree, jou keuses, tot by jou verhoudings, en uiteindelik ook jou fisiese gesondheid.
Deur ’n selfsugtige ingesteldheid te hê, maak jy van jouself ’n afgod, en dit is waar die sondige aspek daarvan inkom. Jy plaas jouself eerste deur aanspraak te maak op jou eie gemak bo die wil van God. Sodra iemand jou dan, byvoorbeeld, te na kom, of dinge begin moeilik en stresvol raak, voel jy nie meer gemaklik nie en word dan kwaad, verbitterd, of angstig, en begin jouself jammer te kry.
So bly jy vasgevang in ’n kringloop wat al hoe moeiliker raak om uit te ontsnap. Voor jy jou oë uitvee word dit so deel van jou identiteit, dat jy geen ander manier van leef meer ken nie. Met ander woorde, jy is jou vryheid kwyt – daardie vryheid wat jy as kind van God behoort te hê om in dankbaarheid, gevul met blydskap en vrede, jou lewe ten volle te leef.
Christus het jou reeds vrygemaak. Al wat jy moet doen is om jou manier van dink te verander sodat jou ingesteldheid ook kan verander.
‘Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. Julle gees en gedagtes moet nuut word;’ Efesiërs 4:22-23
Vra hierdie week die Heilige Gees om daardie sondes wat jou gevange hou uit te wys, en laat Hy jou gees en gedagtes nuut maak sodat jy waarlik vry kan wees.
Geskryf deur Madeleine Venter