“Hoekom, Mamma?” My kinders se geloofsvrae …

deur Susan Goosen

“Hoekom slaap ’n vlermuis onderstebo? Weet hy dit is onderstebo? Wat het Noag met al die visse gedoen? En wat gebeur met ’n griepvirus wanneer jy al so ’n klein bietjie beter voel?”

Die baie vrae waarop jy as ouer antwoorde moet verskaf, is een van die uitdagings van ouerskap waarmee ek nie aanvanklik rekening gehou het nie. Die nimmereindigende hoekoms en waaroms wat jou soms op die onmoontlikste plekke en tye totaal onverhoeds betrap. Saans voor slaaptyd is ’n goeie voorbeeld, wanneer my eie krag en kennis ook maar laag lê. (“Is jy seker die dodo het uitgesterf? Hoe weet jy? As ons dalk nog een kan kry, dink jy dit sal by ons kan bly?”) Of in die supermark, wanneer jy ’n vol trollie, besige skedule en begroting moet beheer en balanseer. (“Wat gebeur met grootmense wanneer hulle te veel suiker eet? Hardloop hulle ook rond?”)

Kinders wil graag weet, verstaan en analiseer. Die wêreld is immers ’n wonderlik, dog soms vreesaanjaende plek, wat net wag om ontdek te word. En ’n pappa of mamma, daardie mense by wie jy die veiligste voel, is die aangewese persone om al hierdie vrae en onsekerhede vir jou in perspektief te plaas. Die ogies wat jou vraend aankyk, oortuig dat jy summier die regte antwoord gaan verskaf. “Weet Mamma?”

My antwoord is egter meermale: “Ek is nie heeltemal seker nie …” (Ek het nog nie self gewonder watter kleur ’n akkedis se bloed is nie.) Maar natuurlik kan en gaan ons uitvind. Kleintyd het ons ’n “Ek wonder”-boksie gehad. Hierdie, en al die ander vrae, is getrou neergeskryf en in die boksie geplaas. Een keer per week het ons, gewapen met ’n stapel boeke en die rekenaar se soekenjin, die vraagstukke aangedurf. Ons het gaan uitvind hoeveel pote ’n honderdpoot regtig het, hoe hoog ’n tsunami se branders is en hoekom wortels oranje is. (Hulle was blykbaar nie altyd nie. Die lojale Nederlanders het ’n oranje variteit gekweek uit eerbied vir Prins Willem 1 van Oranje … Nou toe nou!)

Maar saam met die vrae oor die natuur, fratse en gesonde eetgewoontes, kom ook die dieper en moeiliker vrae. Hoe weet mamma God is regtig? Het ’n engel al aan jou verskyn? En hoekom het die tannie vir wie ons so lief was, doodgegaan? En wat van my klein voëltjie? Ek het dan vir die Here gevra? Het Hy dan nie geluister nie? Hoekom is daar so baie kinders wat nie mammas en pappas het nie? Hoekom het so baie mense in daardie aardbewing doodgegaan? Het hulle nie die Here geken nie?”

Ook hier moet ek dikwels my eie onkunde bely. “Ek weet nie … Ek verstaan dit ook nie …” Hierdie is immers dikwels ook my eie worsteling. Hoekom, Here? Die antwoorde staan nie in ons baie naslaanwerke nie. Ons het immers vir die tannie gebid. En vir die voëltjie, en vir reёn, in die tyd toe die diere rondom ons gevrek het omdat daar nie genoeg kos en water in die veld was nie. “Is mamma seker dat die Here ook vir die diere lief is? Hoekom stuur Hy dan nie vir ons reёn nie?”

Ek weet nie altyd waar om hierdie antwoorde te soek nie. Maar ek weet by Wie. Net soos kinders na hulle ouers gaan wanneer die wêreld nie sin maak nie, kan ons as gelowiges na ons Hemelse Vader gaan. Ons kan ons “Ek wonder”-boksie voor die Here oopmaak, ons harte voor Hom uitstort.

Soms is die antwoord nie wat ons wil hoor nie. En soms maak dit nie vir ons sin nie. “My weё is nie julle weё nie …” Maar deurentyd, soos ’n goue draad deur die Bybel, is die versekering dat God ons midde in ons vrae nie alleen laat nie. Dat geen dood, of siekte of bose geeste of kragte, enige verskil aan God se liefde vir ons maak nie. Saam met die geloofshelde van ouds kan ons getuig: die Here was by my. Ek kan God se hand ook hierin sien. In die woorde van ’n goeie vriendin: “Die Here het nog nooit met my ’n fout gemaak nie.”

En dit kan ek met sekerheid vir my kinders antwoord. Ons mag vra. Ons moet vra. En ons moet dit vir God vra. “Soek en julle sal vind. Wanneer jy klop, sal Ek oopmaak.” Wanneer ons ons vrae en worsteling met die Here deel, kry ons nie altyd dadelik antwoorde nie. Maar ons kry die vrede van God, die vrede wat alle verstand te bowe gaan. En die versekering dat God die slegte ervarings wat oor ons pad kom, vir ons ten goede kan laat meewerk.

Ons hoef nie te weet nie, want God weet. Hy het ons lewensdae geken nog voordat ons gebore is. Ons maak vir Hom soveel saak, dat die hare op ons kop getel is. Hieroor hoef ons nie te wonder nie, ons kan dit weet!

Share this post