JOHANNES 20:19-31 (2020-vertaling)

Op reis met die Groot Vyftig Dae vanaf Paassondag tot met Pinksterfees, bring Revised Common Lectionary ons in die tweede week van Pase in die Christelike Jaar by die Johannesevangelie se vertelling van Jesus se verskyning aan sy dissipels die aand van sy opstanding uit die dood (vers 19) en weer agt dae later toe Thomas saam met hulle was (vers 26). Johannes se vertelling in hoofstuk 20 registreer twee verskuiwings in die Evangelis se neerskryf van die dinge wat Jesus voor sy dissipels gedoen het, met die bedoeling dat “julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en dat julle deur te glo, die lewe in sy Naam kan hê” (vers 30-31). Die eerste verskuiwing raak die plek waar Jesus aan sy binnekring verskyn na sy opstanding. Eers verskyn Hy by die leë graf aan Maria Magdalena op die eerste dag van die week (verse 1, 14-17). Dan verskyn Hy aan sy dissipels agter toe deure waar hulle vergader (verse 19, 26).

Die tweede verskuiwing in Johannes se vertelling, is die wyse waarop geloof in Jesus by sy dissipels bemiddel is, ná sy opstanding. Dit is ’n skuif van sien na hoor. By die graf het die dissipel vir wie Jesus liefgehad het (vers 2, Johannes) binnegegaan, die doeke gesien en geglo (vers 8), sonder om die opgestane Here te sien. Maria Magdalena het Jesus gesien, maar Hom nie herken nie, totdat Hy haar naam genoem het (vers 14-18). Sy het in opdrag van Jesus na Petrus en Johannes gegaan en hulle meegedeel: “Ek het die Here gesien” (vers 18). Nadat Jesus daardie eerste aand na sy opstanding aan sy dissipels verskyn het terwyl Thomas nie by hulle was nie (vers 19-24), het die dissipels vir Thomas gesê: “Ons het die Here gesien!” (vers 25). Thomas was egter skepties oor hul mededeling en het reageer deur klem te plaas op ‘sien’ en ‘tas’ as die voorwaarde (middel) vir glo: “As ek nie die merke sien van die spykers in sy hande en my vinger nie steek in die spykermerke, en my hand nie in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie” (vers 25).

In vers 29 reageer Jesus op Thomas se skeptisisme in die voorafgaande interaksies tussen eers Thomas en die dissipels (vers 25) en daarna tussen Thomas en Jesus (vers 27-18). Jesus noem ’n tweede middel waardeur geloof in Hom as Seun van God by mense gewek sal word, naamlik deur ‘nie’ te sien nie (vers 29), maar te glo op grond van wat neergeskryf is (vers 31), dus oorgelewer is en deur hoor ontvang word. Thomas was nie tevrede om net te hoor wat sy mede-dissipels hom meegedeel het nie (vers 25). Hy wou sien en voel. Dit is merkwaardig dat Jesus Thomas nie wegstoot omdat hy aandring op sien en tas voordat hy glo nie. Jesus nooi hom eerder om sy voorwaarde uit te voer, maar stel ’n alternatiewe wyse bekend waardeur geloof voortaan bemiddel sal word, tot seën vir diegene wat langs daardie weg tot geloof kom. Hulle sal gelukkig wees. In vers 30-31 lê die Evangelis die inhoud van Jesus se saligspreuk in vers 29 uit.

Die skrywers van die publikasie, ”Preaching the Revised Common Lectionary” beskryf dié skuif as ’n nuwe tipe geloof en som die ontwikkeling van Johannes se vertelling op in drie fases: (i) Jesus verskyn aan sy dissipels (vers 19-23), waar die elemente van sien ‘en’ glo geld. (ii) In vers 24-29 verskyn Jesus aan Thomas, waar die element van sien gelyk gestel word aan geloof (sien ‘is’ glo). (iii) In vers 30-31 word die totstandkoming van die evangelie van Jesus Christus geantisipeer en die verkondiging daarvan in ’n konteks waar Jesus liggaamlik afwesig sal wees. In daardie voorsiene situasie wat ook verandering van plek behels, sal ’n ander soort geloof as ‘sien’, seën en geluk bring. So verstaan bied Johannes sy evangelie aan as die inhoud van geloof, waarop ons as volgelinge uitgenooi word om te reageer. Geloof is dan beide gawe (geskenk) én verantwoordelikheid. Prediking (verkondiging) van die evangelie as geskenk, ‘is’ dus geloof. Dit sluit ook die oproep tot dissipelskap in.

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Tweede Week van Pase – Jaar A