Ons almal weet hoe frustrerend dit is wanneer jy met iemand praat wat nie luister na wat jy sê nie.

Wanneer dit vir jou voel asof jy meestal net nie gehoor word nie, hou jy naderhand op met praat. Dit gebeur in vriendskappe, huwelike, by die werk, en selfs by die kerk of in Bybelstudiegroepe. Wat jy sê word óf nie ernstig opgeneem nie, of bloot net geïgnoreer.

Miskien is dít waarom ons dink dat God ook nie na ons gebede luister nie. Veral wanneer jy al baie lank oor ’n spesifieke situasie bid, en steeds geen verandering sien nie.

In Psalm 77, skryf die Psalmdigter, Asaf, dat hy in die aande ontsteld wakkerlê met sy hande uitgestrek in gebed, maar geen troos vind nie. Hy wonder of die Here dan nooit weer genade gaan betoon nie. (Ps. 77:3-10)

Dit klink nogal na iemand wat voel asof hy teen die plafon vas bid, nè?

Wat egter so fassinerend van hierdie Skrifgedeelte is, is dat Asaf juis sy hart teenoor die Here uitstort omdat hy weet dat God hom wel hoor.

Kyk hoe begin hy sy klaaglied:

‘Ek roep na God om hulp, ek roep na God, want Hy sal my hoor.’ Psalm 77:2 (eie klem)

Sy moedeloosheid lê dus nie daarin dat hy dink God hoor nie sy gebede nie.

Ons lees in Openbaring 8 dat ons gebede soos ’n wierookoffer voor God se troon opstyg. (Op. 8:3-4)

Die Here hoor elke woord wat jy sê, en Hy hoor dit nie net nie, Hy luister aandagtig.

‘Ek het die Here lief, want Hy luister na my stem, my smeekgebed; ja, Hy draai sy oor na my, en solank ek leef, sal ek Hom aanroep.’ Psalms 116:1-2 AFR20

Jy kan verseker weet dat jou gebede nie op dowe ore val nie. As dit so was dat die Here nie waarde aan ons gebede heg nie, sou die Woord ons nie aangemoedig het om te bid nie.

Gaan lees gerus Matteus 7:7-11, 1 Tessalonisense 5:17 en Filippense 4:6, om maar net ’n paar Skrifgedeeltes wat gebed aanmoedig te noem.

Begin dan sommer hierdie week nog met ’n gebedsjoernaal, sodat jy in die toekoms kan terugblaai en sien hoe die Here jou gebede beantwoord het.

Al lyk die antwoorde nie altyd soos wat jy sou wou hê dit moet lyk nie, sal jy wel sien dat Hy jou gehoor het en aandag aan jou versoek gegee het.

Moenie moed opgee nie. Hy hoor jou.

Geskryf deur Madeleine Venter