‘Ek bly nie langer in die wêreld nie, maar hulle bly nog in die wêreld. Ek kom na U toe. “Heilige Vader, bewaar hulle in u Naam, die Naam wat U My gegee het, sodat hulle net soos Ons een kan wees.’ Johannes 17:11
In Jesus se laaste gebed voor die kruisiging, bid Hy vir sy volgelinge. En nie net vir hulle nie, maar ook vir diegene wat deur hulle woorde tot bekering sou kom. Vir óns – sy kerk. (Joh. 17:20-21)
Die kerk word deur God in stand gehou. Nie deur leiers, strukture of instansies nie, maar deur die kragtige werking van die Heilige Gees. Deur die eeue heen, ten spyte van vervolging, onderdrukking en morele uitdagings, staan die kerk steeds. Net soos wat Jesus beloof het dit sou:
‘En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.’ Matteus 16:18
Jesus het gebid dat die kerk eensgesind sal wees. Dit beteken egter nie dat ons moet maak asof verskille nie bestaan nie. ’n Klomp mense met unieke persoonlikhede, agtergronde en persepsies kan onmoontlik in alles eensgesind wees.
Daarom is dít wat ons as kerk saambind nie ’n onrealistiese skyn van vrede en verdraagsaamheid nie. Nee, ons eenheid is gewortel in geloof, waarheid, nederigheid, heiligheid en liefde. Met ander woorde, dit is ons gehoorsaamheid aan Christus wat ons saambind.
Sonder die uitstorting van die Heilige Gees, sou dit egter nie moontlik gewees het nie. Dit is die Gees wat geloof in jou bewerk, en jou nuut maak sodat jy deel van Christus se kerk kan wees. (Joh. 3:6; Titus 3:5; 1 Kor. 2:4; 2 Kor. 4:13)
Die Heilige Gees gebruik elkeen se unieke karaktereienskappe tot voordeel van die kerk. Ons is een liggaam met baie lede, en aan elk van ons is ’n spesiale gawe gegee wat ons toerus vir ’n spesifieke doel.
‘Aan elkeen afsonderlik word ‘n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal.’ 1 Korintiërs 12:7
In Efesiërs 2:19-22 vergelyk Paulus al die gelowiges met ’n geestelike huis waarin God woon, en waarvan Jesus self die hoeksteen is. In Jesus sluit die gebou saam en verrys dit tot ’n heilige tempel vir die Here.
Jy is ook deel is van daardie heilige tempel wat deur die Gees in stand gehou word. Wat ’n wonderlike waarheid om aan vas te hou!
Geskryf deur Madeleine Venter