MATTEUS 2:13-23 (2020-vertaling)
Die week ná Kersfees van die Christelike jaar volgens Westerse tradisie, bring ons ook by die oorgang van die jaar op die sekulêre kalender. Terwyl die ou jaar uitloop in die nuwe jaar in, herinner die Oosterse tradisie ons aan die voortsetting van Jesus se menswording met Epifanie op 6 Januarie. Volgens Westerse tradisie fokus Kersfees op Jesus se menswording (inkarnasie), terwyl die Oorsterse tradisie klem plaas op Jesus se verskyning in die wêreld, die rol van die sterrekenners uit die Ooste, asook Jesus se doop. Revised Common Lectionary (RCL) neem ons na Matteus 2 vir die Evangelis se vertelling van die gebeure ná afloop van die sterrekenners se besoek aan die Kindjie waarheen die ster hulle gelei het (vers 9). Matteus vertel Jesus se geboorte was nie vir koning Herodes goeie nuus nie. Hy het bose planne teen Jesus bedink sodat Jesus saam met sy ouers moes vlug vir sy lewe (vers 14).
Matteus betrek ’n aantal karakters in sy narratief. Die sterrekenners wat die ster uit die Ooste gevolg het na die Kindjie toe, het nie die opdrag van koning Herodes gehoorsaam om alles oor die Kindjie uit te vind en hom te laat weet wanneer hulle Jesus gekry het nie (verse 8, 13, 16). Herodes was woedend omdat hulle hom geïgnoreer het. Hy het sy plan om Jesus dood te maak, met ’n selfs oortreffender strategie uitgevoer deur opdrag te gee om al die seuntjies van twee jaar en jonger om die lewe te laat bring (vers 16). Herodes, aardse maghebber, wou verseker enige moontlike uitdaging vir die regering van die Herodiaanse dinastie word in die kiem gesmoor. Hoekom moes dié onsinnige slagting van klein kindertjies deel vorm van Jesus se storie? Sommige geleerdes meen dié hartelose optrede is ’n voorbeeld van die Bybelse waarheid dat dood die deurgang na die lewe is. Matteus sien dié gebeure in verband met Jeremia 31:15, ”Toe is vervul wat deur die profeet Jeremia gesê is” (vers 17).
Matteus vertel ook hoe God op ongewone wyse met karakters in dié verhaal kommunikeer. Die sterrekenners ontvang ’n waarskuwing van God in ’n droom oor Herodes se plan om Jesus dood te maak (vers 12). ’n Engel van die Here (God) verskyn aan Josef in ’n droom, met die boodskap om met die Kindjie en sy moeder na Egipte te vlug, om Herodes se duister plan te fnuik (vers 13). Ná Herodes se dood het daar in Egipte wéér ’n engel van die Here in ’n droom aan Josef verskyn. Nou was die opdrag om terug te keer na die land Israel, omdat koning Herodes, die mens, gesterf het en dit veilig was om terug te keer. Terug in die land Israel, het Josef ’n derde droom waarin God opdrag gee om na die landstreek Galilea te vertrek en daar in ’n dorp met die naam Nasaret te gaan woon. Die misterie van God se betrokkenheid op aarde troef die verganklike mensheid van ’n magsiek Herodes.
Matteus span ook die tema van plek en ruimte in om die beweging van God se handelinge in die Jesus verhaal aan die lig te bring. Die land Egipte vervul ’n belangrike simboliese en teologiese funksie in die verhaal. God gee aan Josef opdrag om na Egipte te vlug ten einde die lewe van die kindjie Jesus te bewaar. Die ironie is dat die land (Egipte) wat vroeër die plek (ruimte) van onderdrukking vir God se volk was, nou gekies word as veilige hawe waarheen die heilige familie ontvlug om aan die dreigende gevaar te ontkom. Soos God die Egiptiese Farao verhinder het om die Israeliete in die Ou Testament te vernietig, voorsien God wéér uitkoms vir Josef, Maria en Jesus sodat Hy sy ewige verlossingsplan vir Israel en die wêreld kan deurvoer.
Matteus se verwysing na profete wat gesê het, “Hy sal ’n Nasarener genoem word” (vers 23), is nie sonder uitdaging nie. Moontlike verklarings lê in die verband wat Matteus sou sien met die betekenis van die Hebreeuse woord “nēzer” in gedeeltes soos Jesaja 11:1 en Jeremia 23:5; ’n “takkie sal spruit”. Jesus was nie ’n Nasarener nie, maar Hy was die takkie wat God laat uitspruit tot toekomstige redding van alle mense, terwyl die magsdrif van aardse konings vir God en sy Messias misken het.
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Eerste Week na Kersfees – Jaar A