‘In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. En julle ken die weg na die plek waarheen Ek gaan.’ Johannes 14:2-4

Ons vier hierdie week saam met Christene van reg oor die wêreld Hemelvaartdag, maar het jy al gaan sit en dink wat hierdie dag vir jóú persoonlik beteken?

Dit is eintlik ’n goeie tyd om weer daardie dinge, wat Jesus belowe het ná sy Hemelvaart sou gebeur, te onthou.

Hy het belowe dat die Vader die Heilige Gees sou stuur om gelowiges met krag toe te rus en aan alles te herinner wat Hy geleer het. Dit is dan ook presies wat gebeur het. Op Pinkster is die Gees uitgestort en deur sy kragtige werking het die Kerk van Christus tot stand gekom. (Joh. 14:26; Hand. 2)

Hy het gewaarsku dat ons dit nie maklik gaan hê nie, en ter wille van Hom vervolg sal word. Dit is ook so. Die eerste Christene het elke dag vir hulle lewens gevrees, en daar is steeds lande waar vervolging van gelowiges ’n harde, wrede werklikheid is. (Joh. 15:20; 16:33; Mat. 10:22;  Hand. 8:11)

Dan het Hy ook belowe dat Hy weer sal terugkom om ons, sy volgelinge, te kom haal sodat ons saam met Hom by die Vader kan wees. Dit het nog nie gebeur nie maar, net soos met die belofte van die Gees, sal dit wel.

Terwyl ons wag vir daardie dag, het ons ’n taak gekry om te doen, en dit is om die Evangelie te verkondig. Ons word ook aangemoedig om anders te wees – sout en lig – en om te volhard tot die einde toe. (Mat. 5:13-14; 28:19; Jak. 5:8)

Jy is eintlik reeds ’n burger van die Hemel, en Jesus het belowe dat Hy daar vir jou ’n plek gereed kry. C.S. Lewis het gesê: “The fact that our heart yearns for something Earth can’t supply is proof that Heaven must be our home.”

Ons sien met verwagting uit na daardie dag wanneer Jesus weer kom om almal wat aan Hom behoort te kom haal. Dit is ’n belofte waaraan jy maar mag vashou.

‘Terwyl Hy weggaan en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan. Dié sê toe vir hulle: “Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.”’ Handelinge 1:10-11

Geskryf deur Madeleine Venter