‘U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder.’ Psalm 139:13

Toe Jesus vir Matteus geroep het, het Hy nie ’n tollenaar gesien nie, maar eerder iemand wat sy lewe op aarde gaan neerskryf vir ons om vandag te kan lees.

In Simon, het Hy nie ’n eenvoudige visserman gesien nie, maar vir Petrus – die rots waarop Hy sy kerk sou bou.

Dawid moes in die veld bly en skape oppas terwyl Sameul uit sy broers ’n nuwe koning moes kies. Waar Isai egter net ’n jong skaapwagter gesien het, het God ’n gesalfde gesien.

Gideon het gemeen dat hy die minste aansien in die armste familie in Manasse het. Die engel spreek hom egter reeds as die dapper redder van Israel aan.

Watter etikette dra jy met jou saam?

Elkeen van ons het ’n innerlike stem wat tydens ons grootwordjare gevorm word. Dit kan die stem van ’n ouer, ’n onderwyser of jou portuurgroep wees. Dit kan ook die gevolg van sekere ervarings wees.

Daardie innerlike stem is nie altyd opbouend nie. As iemand voortdurend misverstaan en gekritiseer was as kind, word die stem as’t ware ’n profesie oor daardie persoon se lewe, want so iemand glo die negatiewe etikette en pas dan onbewustelik sy/haar leefstyl daarby aan.

Hierdie week wil ek jou aanmoedig om daardie negatiewe etikette te vervang met wat God oor jou sê:

  1. Jy is geskape vir ’n spesifieke doel

‘… God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.’ Efesiers 2:10

  1. Jy behoort aan Hom

‘God self het ons saam met julle op hierdie vaste grond gevestig: op Christus. God het ons vir Hom afgesonder, ons as sy eiendom beseël en die Heilige Gees in ons harte gegee as waarborg van wat ons nog sal ontvang.’ 2 Korintiers 1:21-22

  1. Jy is vrygespreek

‘God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus.’ Romeine 5:1

  1. Jy het krag, liefde en selfbeheersing

‘Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.’ 2 Timoteus 1:7

  1. Jy het outoriteit

‘Kyk, Ek het aan julle gesag gegee om op slange en skerpioene te trap, en ook oor al die mag van die vyand. Niks sal julle enige skade kan aandoen nie.’ Lukas 10:19 AFR20

Hang hierdie etikette om jou nek en leef op daarna. Vra die Heilige Gees om die gawes wat Hy aan jou gegee het vir jou uit te wys en rig jou lewe volgens dit in.

Jy is wie God sê jy is, en niemand ken jou beter as wat Hy doen nie.

Geskryf deur Madeleine Venter