Ons lees in die nuus van mense wat letterlik met moord wegkom. Hulle vang vreeslike dinge aan en word daardeur skatryk. Asof dit nie genoeg is nie, wil dit partykeer voorkom asof sommige leiers, of selfs diegene wat juis moet sorg dat geregtigheid geskied, op die een of ander manier hierby betrokke is.

Hierdie is nie ’n probleem wat net van toepassing is op die tyd waarin ons leef, of slegs een spesifieke land nie. Korrupsie is so oud soos die mensdom self, en dit kom oral voor.

As jy vandag, soos baie ander mense reg oor die wêreld, ontsteld is oor die doen en late van boosdoeners, wil ek jou aanmoedig om Psalm 37 te gaan lees. Ek wil dan graag ook ’n paar gedeeltes uitlig.

Laat ek begin met die vertroosting dat ons glad nie bang hoef te wees nie. In vers 40 lees ons dat God diegene wat by Hom skuil beskerm teen slegte mense:

‘Die Here help hulle en Hy bevry hulle, Hy bevry hulle van die slegte mense en red hulle, want hulle skuil by Hom.’ Psalm 37:40

Dan wil ek jou gerusstel met die versekering dat ons regverdige God steeds in beheer is. Hy weet van alles wat agter geslote deure gebeur, en Hy laat elke mens kry wat hom toekom. (Gal. 6:7) Jy hoef nie jouself te kwel oor hulle doen en late, of soos ’n waansinnige elke sameswering te probeer oopvlek nie.

‘Ek het al gesien dat ‘n slegte, roekelose mens geil opskiet soos ‘n plant, en toe ek weer verbykom, was hy nie meer daar nie; ek het hom gesoek en hy was nêrens nie. Maar let nou op die eerbare mens, kyk na die opregte: die regskape man, vir hom is daar ‘n toekoms.’ Psalm 37:35-37

Dit bring my dan by die laaste punt. In plaas daarvan om jouself te ontstel en te kwel oor die doen en late van boosdoeners, kan jy eerder jou energie toespits daarop om goed te doen. Dawid stel voor dat jy net rustig aangaan met jou lewe:

‘Van Dawid. Moet jou nie ontstel oor skelms en jou kwel oor skurke nie, want soos gras vergaan hulle gou en soos groenigheid verdwyn hulle sommer. Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort.’ Psalm 37:1-3

Solank ons wag op Jesus se koms, sal daar altyd boosheid onder ons wees. Jy hoef egter nie toe te laat dat dit jou lewe versuur nie. As kind van God weet jy dat daar ’n dag sal kom waarin daar finaal met boosheid afgereken gaan word.

Geskryf deur Madeleine Venter