Na aanleiding van Psalm 31:1-8, 15-16 (lees 2020-vertaling)
Here, met ons aanbeweeg in die Christelike Jaar vanaf Paasfees na Pinksterfees, laat die psalmis ons vertoef by twee uitdrukkings oor tye en u hande. Hoe kan ek oor u hande dink, en wat beteken dit vir ons in die lig van uitsprake oor vernietiging deur magtige leiers?
Ons is nie inwoners of burgers van Iran nie, Here. Tog hoor ons oor die nuus hoe die president van Amerika sonder om te blik of te bloos dreig om Irak totaal uit te wis, as een van die opsies waaroor hy tans besluit.
Wie is almal in u hande as een mens soveel mag het?
Die ontstellende self-aanmatiging en ongebreidelde magsvergryp waarop mense ook in ons tyd aanspraak maak, Here, laat my dink aan Christus se woorde aan die kruis toe mense Hom met mag aan die skandpaal
opgelig het: “In u hande gee Ek my gees oor.”
Here, daar is talle voorbeelde uit ons daaglikse lewe wat ooreenstem met die angswekkende ervarings van die psalmis, wat ons eweneens beweeg om tot U te roep om bevryding deur u geregtigheid. Misdadigers
lê selfs hinderlae vir wetstoepassers. Waar is u hand?
Ons lewe in ’n tyd van angs en trauma, Here. Selfs net die dinge waarvan ons daagliks hoor wat ander mense aangedoen word, vul ons met vrees vir ons medemens. Daarom bid ek/ons in ’n tyd soos dié: Laat my loskom uit vangnette wat mense vir mekaar en ook vir my stel.
Here, hoe heerlik die wete dat die gewaande mag van mense nie die laaste woord spreek nie. Hoe lieflik is die versekering dat U my rotsvesting en my bergskuiling is. U is ons toevlug in alle omstandighede. Ek onthou hoe U my/ons in die verlede uit angs bevry het, troue God.
Daarom kan en wil ek soos Jesus in sy oomblik toe Hy van God verlate gevoel het, vandag my keuse voor U uitspreek, naamlik dat ek myself en elke oomblik van die tyd wat ek bestaan in u hande oorgee. Here, dit is
’n wilsbesluit uit oortuiging omdat U trou vas staan.
Here, ek vrees nie die tyd waarin ons leef of dae wat voor ons lê nie. Hande van maghebbers hou nie voor U stand nie. Op U vertrou ek. My tye is in u hand.
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond