Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

Hoe bly mens staande in die storms? Hoe hou mens gelowig end-uit om, op die dag wat Jesus weer kom, die oorwinnaarskroon te kan ontvang?

In Kolossense 2:6-7 skryf Paulus:

‘Aangesien julle dan Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle in verbondenheid met Hom lewe, in Hom gewortel en op Hom gebou, vas in die geloof soos julle geleer is, en met dankbaarheid vervul.’

Hy is ’n rots wat nooit wankel nie. Jy kan elke uitdaging wat hierdie jaar oplewer met selfvertroue tegemoet gaan. Wanneer jy in Hom gewortel en op Hom gebou is, sal niks jou kan onderkry nie, want jy maak nie op jou eie kragte staat nie, maar op die onoorwonne krag van God.

Nou is die vraag natuurlik, hoe weet jy dat jy in verbondenheid met Hom lewe? In Die Eerste Brief van Johannes, noem die die apostel ’n paar maniere:

‘Wie bely dat Jesus die Seun van God is – God bly in hom en hy in God.’ 1 Johannes 4:15

Eerstens moet jy Jesus aanneem as jou Verlosser en weergebore wees. Dan kan jy met vrymoedigheid na Hom toe gaan. Daar is geen ander manier om by God uit te kom en in Hom te bly nie. (Joh. 3:3; Ef. 3:12; Joh. 14:6)

‘Hiéraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons: Hy het ons sy Gees gegee.’ 1 Johannes 4:13

Wanneer jy weergebore word, kom trek die Heilige Gees in, en word jou liggaam sy tempel. Dan laat jy Hom toe om leiding te neem in alles wat jy sê en doen. So ontdek jy dan jou spesiale Geestelike gawe wat jy kan gebruik tot eer van God se koninkryk. (1 Kor. 6:19; Rom 8:16;12:6)

‘En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin. God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom.’ 1 Johannes 4:16

Wanneer jy liefhet, gehoorsaam jy die grootste gebod. Deur in die God van liefde te bly, kan jy nie anders as om daardie liefde uit te deel aan ander nie.(1 Joh. 3:23; Joh. 13:34; Mat. 22:47-40)

‘Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het.’ 1 Johannes 2:6

Jy is Jesus se verteenwoordiger hier op aarde. Wanneer mense na jou kyk moet hulle Hom sien. Sy liefde. Sy genade. Sy diensbaarheid. (Kol. 3:16-17; Mark. 10:45)

‘Iemand wat in Hom bly, hou nie aan met sondig nie; iemand wat aanhou sondig, het Hom nie gesien nie en ken Hom nie.’ 1 Johannes 3:6

Die ou sondige jy is dood, en nou lewe daar ’n nuwe mens wat nie meer wil sondig nie. (Kol. 3:5-10; Rom. 6:11)

Jesus sê in Johannes 15 dat Hy die wingerdstok is en ons die lote. Maak hierdie ’n vrugbare jaar deur te sorg dat jy in Hom bly. Onthou, ’n loot kan nie op sy eie vrugte dra nie.

 

Geskryf deur Madeleine Venter