‘Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg.’ Jakobus 3:17 (eie klem)
Iemand wat inskiklik is, neem ander se gevoelens in ag. Dit beteken ook dat jy toegeeflik is en met redelikheid optree.
Soms wil ’n mens sommer dadelik oordeel en teregwys. Inskiklikheid vra dat ons eers vir ’n oomblik terugstaan en probeer om die ander persoon se motiewe en agtergrond te verstaan. Paulus skryf die volgende in Romeine 14 en 15:
‘Aanvaar die een wat in die geloof swak is, sonder om met hom te stry as sy opvatting van joune verskil’ Romeine 14:1
‘Op ons wat sterk is in die geloof, rus die verpligting om die swakhede te verdra van dié wat nie sterk is nie. Ons moenie aan onsself dink nie: elkeen van ons moet aan ons naaste dink en aan wat vir hom goed is en wat hom in die geloof kan opbou … Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God.’ Romeine 15:1-2; 7 (eie klem)
Dit is moeilik om daardie fyn balans tussen inskiklikheid en kompromie te vind. Veral as ouer of mentor, is daar beslis ’n stadium wanneer jy die lyn sal moet trek en daarteen moet waak om nie té toegeeflik te wees nie.
Ek glo dat Paulus in vers 2 vir ons ’n maatstaf gee waarvolgens ons kan werk: Sodra jou toegeeflikheid iemand benadeel, is dit te veel. Jou inskiklikheid behoort ander se geloof te versterk.
Jesus het vir ons ’n voorbeeld gestel van gesonde inskiklikheid. Wanneer Hy tyd saam met sondaars spandeer het, het sy blote teenwoordigheid hulle verander. Die rede hiervoor, was dat Hy deur sy betrokkenheid in hulle lewens gewys het dat Hy begrip vir hulle omstandighede het, en ook dat Hy hulle lief genoeg gehad het om aandag aan hulle te gee. (Luk. 19:1-8)
Anders as Jesus, ken jy nie almal se agtergrondstories nie, en is dit soms moeilik om inskiklikheid reg toe te pas. Daarom moet jy juis op hierdie eienskap reken as ’n Goddelike wysheid, en die Heilige Gees toelaat om jou hierin te lei.
Mag ons in die week wat voorlê, ’n bietjie sagter en met meer begrip teenoor elkeen wat ons pad kruis optree, al stem ons ook nie altyd saam met hulle doen en late nie. Op die ou end kom dit weereens neer op onselfsugtige naasteliefde.
Geskryf deur Madeleine Venter