Integriteit is die konsekwente nakoming van sterk morele en etiese beginsels, dikwels beskryf as “om die regte ding te doen, selfs wanneer niemand kyk nie”.
Dit behels eerlikheid, onkreukbaarheid, en ‘n “heel” karakter wat nie onder druk vou nie. Dit staan lynreg teenoor skynheiligheid en beteken om betroubaar te wees in woord en daad.

As ek na hierdie verduideliking op LitNet se bladsy staar, maak dit iets in my wakker en laat my wonder waarmee ek (ons) besig is.
Hoekom vereis die lewe dat ons alles moet verduidelik of verdedig?
Hoekom is my doen en late nie meer genoeg nie?

Ons oudste seun is hierdie jaar hoërskool toe, en boonop vir die eerste keer in sy lewe in die koshuis. Dit gaan maar rof – die aanpassing vir hom en die verlange vir ons. Kleinboet het natuurlik vet pret, want hy is nou meestal die “oudste” en sommer skoon parmantig met meer sê.

Wat vir ons wonderlik is van ouboet, is die klem wat sy nuwe skool op integriteit plaas. Hulle praat daaroor. Hulle leer dit.
Onkreukbaarheid. Eerlikheid. Konsekwentheid. Om te doen wat jy sê jy gaan doen.
Maar buite daardie wêreld lyk dit anders.

Deesdae beleef ons hoe omkoop amper alledaags geword het. As ’n “wit leuntjie” jou help oorleef, word dit maklik tydelik aanvaar. Ek sien hoe ons soos verdwaalde tennisballe op en af spring – aanpas soos dit ons pas.
En as ek eerlik is…
ek het self al aangeleer om nie altyd te doen wat ek gesê het ek gaan doen nie.
Daar is soms ’n verskoning. Iets om myself te beskerm.
Die gevolg?

Ons vertrou mekaar nie meer nie.

Ons kan nie mekaar se woorde en dade voorspel of glo nie, want ek doen wat vir my – en vir my alleen – tot voordeel is. En as jy nie soos ek dink nie, verwag ek dat jy jouself moet verdedig…want jou integriteit lyk anders as myne.
Vergaderings ontaard in oorlog.
Gesprekke word klipgooi.
Respek verdwyn.

Ons 10-jarige dogter vra nou die dag, toe ons ouboet by die skool gaan haal:
“Mamma, hoekom groet al hierdie seuns my as dame? Hulle ken my nie eers nie.”
Ek weet nie wat om te sê nie.
Vir haar is dit vreemd. Om met respek gegroet te word, voel onnatuurlik.
En dit tref my:
ons het as samelewing verleer om integriteit en respek net… te leef.

Ek beleef dit ook persoonlik. As predikant ervaar ek die laaste tyd hoe my integriteit en menswees bevraagteken word – soms selfs vertrap – omdat ek kies om nie myself te verdedig nie. Ek wil dit leef. Nie net verduidelik nie.
Maar as dit nie soos iemand anders s’n lyk nie…dan bestaan dit seker nie?

My self-refleksie is intens. Ek praat hard, en ook sag. My koffie raak koud.
En die vrae kom vinnig:
Wynand, is jy konsekwent?
Doen jy wat jy sê jy gaan doen?
Is jy eerlik – met jouself en met ander?
En dan daardie vraag wat bly hang:
Is jou karakter so stewig dat dit nie omgekoop kan word nie?

Sonder om te melodramaties te klink, slaan die donderweer op daardie stadium buite en dis asof die Here my herinner om eerlik te antwoord.
My eerste reaksie is om myself te wil verdedig. Maar dan kom Sy stem sag deur die reën…
Hoekom is dit vir jou nodig om jouself te verdedig?

Ons is deesdae so besig om onsself te beskerm, dat ons vergeet van ons verhouding met onsself en met God. Verhoudings word gebou deur integriteit – nie deur verduidelikings nie.

Terwyl ek by die sportgronde inry om vir kleinboet te gaan ondersteun, hoor ek skielik langs my:
“Goeie dag, mevrou.”
Ek kyk vinnig links. Ouboet lig sy keppie en groet ’n werker wat met ’n kalkemmer verbyloop:
“Dag, meneer.”
Hy staan daar in die tonneltjie, in sy skooldrag, in die hitte. Sy vriende staar hom aan.
“Kry jy nie warm nie, pel?”
“Ja… maar ek is in my skooldrag.”

Dis dit.
Nie groot woorde nie.
Nie ’n verduideliking nie.
Net… wie hy is.

Dís hoe integriteit lyk.
Nie perfek nie. Nie indrukwekkend nie. Net getrou.
Verhoudings word gebou – nie afgedwing nie.

Ek en jy hoef niks van ons menswees te verdedig as ons dit leef nie.
Eerlik.
Opreg.
Met liefde.

Ons as kinders van die Here moet oppas dat ons nie ons eie verstaan van die lewe op ander afdwing nie. Gee ruimte. Laat elkeen sy of haar integriteit ontdek en leef.
Ons hoef nie te verdedig nie.

Die Een wat alles gemaak het, verdedig vir jou en my.
Soms is die opdrag net om stil te wees – en te kyk hoe die Here werk. Dan sien ek wie Hy werklik is. Dan leer ek integriteit by Hom – juis omdat Hy doen wat Hy sê.

By die Rooisee wou die volk terugdraai. Maar Moses bly staan.Hy bly getrou.
“Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg.”
Kom ons hou op verdedig. Kom ons leef so dat integriteit self begin praat.

’n Heel karakter.
Een wat nie onder druk vou nie.
Een wat God se lig laat skyn.

Geskryf deur Wynand Olivier