Dit is algemene kennis dat die menslike liggaam op die meeste net vir vier dae sonder water, en omtrent drie weke sonder kos kan oorleef.
In Johannes 6 herinner Jesus ons egter daaraan dat dit nie net die liggaam is wat kos en water nodig het nie:
‘… Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.’ Johannes 6:35
Net so belangrik as wat dit is om ons liggame te voed, is dit ook om ons gees te voed.
Geestelike kos kom in baie verskillende vorme. Dit kan musiek, kuns, die natuur, literatuur, filosofie, of enige iets anders wees wat jou geestelik ryker laat voel. Dit is goed om ons gees hiermee te voed. Die probleem is egter dat al hierdie dinge nooit jou geestelike honger heeltemal sal kan stil nie. Dit is maar net soos peuselhappies voor die hoofmaal.
Jesus praat in hierdie Skrifgedeelte van geestelike kos wat jou nie net heeltemal versadig maak nie, maar ook die ewige lewe gee. Dit is nie ’n ideologie of spesifieke godsdiens nie. Dit is Hy self.
Sonder Hom sal jy tevergeefs soek na iets om daardie leemte binne jou te vul.
Jesus vergelyk Homself met ’n wingerdstok waarvan ons die lote is. ’n Loot moet tog deel van die wingerdstok wees om te kan lewe en vrugte te dra. Solank die loot aan die wingerdstok is, voed die wingerdstok die loot. ‘Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.’ Johannes 15:5
Hoe bly jy in Hom en Hy in jou? Hoe voed jy jou Gees met die brood wat lewe gee? Die antwoord lees ons in 1 Johannes 4:15: ‘Wie bely dat Jesus die Seun van God is – God bly in hom en hy in God.’
Ja, dit is so eenvoudig soos wat dit klink. Glo en bely. Die res sal God doen.
Hoor ook wat sê Deuteronomium 8:3: ‘Hy het jou laat swaarkry, laat honger ly en toe met manna gevoed, iets waarmee nóg jy nóg jou voorvaders bekend was. Hy het dit gedoen om jou te leer dat ‘n mens nie net van brood leef nie, maar dat hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom.‘ (eie klem)
Jesus is die Woord wat mens geword het. Jou daaglikse brood. Jou gees honger en dors na Hom – die Weg, die Waarheid en die Lewe. Moenie vergeet om aan te sit vir die hoofmaal nie.
Geskryf deur Madeleine Venter