MATTEUS 11:2-11 (2020-vertaling)
In die Derde Week van Advent besoek ons Johannes die Doper in die tronk (Matt 11:2). Hy is deur Herodes, die tetrarg, in hegtenis laat neem (Matt 14:1) omdat hy herhaaldelik vir Herodes gesê het hy mag nie vir Herodias, vrou van sy broer Filippus, as vrou hê nie (14:3-4). Matteus vertel in 4:12 Jesus het gehoor Johannes is in hegtenis geneem. Intussen het Jesus sy verkondiging begin en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele is op hande” (4:17). Op grond van Jesus se verkondiging van die koninkryk van die hemele het Johannes boodskappers na Jesus gestuur met die vraag: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons iemand anders verwag?” (vers 3). Hierdie is ’n belangrike vraag vir ons in Advent, op weg na Kersfees. Wie is Jesus, wie se geboorte ons binnekort vier, vir my en vir jou vandag? Wie is die Een op wie se koms ons wag? Wat verwag jy van Jesus Christus?
Ons kan gerus tyd met dié drie vrae spandeer. Hulle is wesenlik en hou ten nouste verband met die verwagtinge en afwagting wat Advent kenmerk. Klaarblyklik het Johannes se verwagting van wie Jesus is en hoe Hy sy taak op aarde sou vervul, Die Doper laat vra of Jesus die Een is wat sou kom. Vroeër het Johannes verklaar: “…Hy wat ná my kom, is sterker as ek, en ek is nie eers werd om sy sandale vir Hom aan te dra nie” (3:11). Toe Jesus na Johannes gekom het om deur hom gedoop te word, het Johannes geprotesteer: “Ek behoort deur U gedoop te word, en U kom na my?” (3:14). In die tronk is Johannes nie meer so seker van wat hy oor Jesus geglo het nie, asof hy begin wonder of hy reg verstaan het wie Jesus is, en onseker is oor sy verwagtinge aangaande Jesus. Is die Jesus wat die storm op die see stilgemaak (8:23-27) en genesings bewerk het (9:1-35), asook twaalf dissipels toegerus en uitgestuur het om die koninkryk van die hemele aan die verlore skape van Israel te verkondig (10:5-7), werklik die verwagte Messias? Hy twyfel oor dié Messias, omdat die dinge wat hy van Jesus hoor, nie strook met sy verwagtinge van die Een wat sou kom nie. Johannes se ontnugtering en twyfel daag ook vir my en jou uit om nuut te besin oor ons verwagtinge van wat Jesus op aarde en in ons lewens kom doen het. Strook ons verwagtingemet hoe Jesus Homself in woord en daad openbaar?
Jesus se antwoord op Johannes se vraag is eenvoudig, sonder omhaal van uitgerekte argumente. Hy stuur Johannes se boodskappers terug met die opdrag om te getuig van Jesus se dade onder die mense: “Gaan vertel vir Johannes wat julle hoor en sien: Blindes sien weer en verlamdes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek en aan armes word die goeie boodskap verkondig” (vers 4-5). Word ek en jy nie ook in Advent opgeroep om te vertel wat ons sien die Here in ons lewe en omgewing doen nie? Leef ons met ’n bewustheid wat daarop ingestel is om werklik aandag te gee aan Jesus se woorde en dade in ons daaglikse leefwêreld? Jesus sê: “Gelukkig is elkeen wat nie aan My begin twyfel nie” (1983-vertaling).
Jesus het met die skare oor Johannes begin praat (vers 7) en aangedui dat die nuwe tyd aangebreek het, die tyd van die koninkryk van die hemele. Die periode van profetiese optrede het met Jesus se koms na die wêreld ’n hoogtepunt bereik. Johannes was weliswaar ’n belangrike skakel in die profetiese lyn, aangesien hy die wegbereider vir Jesus was. Hy was selfs meer as ’n profeet: “Hy is die een oor wie geskryf staan: ‘Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit – hy sal jou pad voor jou gereedmaak’” (vers 9-10). Johannes het inderdaad dié belangrike taak verrig en die Een kom aankondig wat die profetiese boodskap sou vervul. Daarin is Johannes inderdaad ’n belangrike skakel, maar met die koms van Jesus, het die bedeling van die koninkryk van die hemele aangebreek. In dié bedeling is almal voor God belangrik: “…en tog is die geringste in die koninkryk van die hemele groter as hy” (vers 11). Vir ons wat voorberei vir die viering van Jesus se koms na die wêreld, geld Jesus se saligspreuk: “En gelukkig is die mens wat nie aan My aanstoot neem nie” (vers 6) (2020-vertaling).
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Derde Week van Advent – Jaar A