LUKAS 24:13-35 (2020-vertaling)

Op reis met die Groot Vyftig Dae vanaf Paassondag tot met Pinksterfees in die Christelike Jaar, neem Revised Common Lectionary ons na Lukas se vertelling van nog een van Jesus se na-Opstanding verskynings aan sy volgelinge. Ons het die vorige twee weke met Johannes vertoef by drie verskynings van Jesus aan sy dissipels: Eers by die leë graf aan Maria Magdalena, die oggend van die eerste dag van die week (Joh 20:1, 14-17); Daarna aan sy dissipels agter toe deure waar hulle bymekaar was, die aand van die eerste dag van die week (Joh 20:19); Agt dae later het Jesus weer aan hulle verskyn, met Thomas ook by hulle (Joh 20:26). Hierdie week vertoef ons by ’n ontmoeting waarvan net Lukas vertel, ook daardie eerste dag van die week, amper aand (vers 29), op die pad tussen Jerusalem en Emmaus (Luk 24:13).

Lukas stel ons bekend aan twee mense wat vanaf Jerusalem te voet op weg is na Emmaus, peinsend oor wat die afgelope dae in Jerusalem gebeur het (Jesus gekruisig en begrawe). Die een se naam was Kleopas. Die ander se naam bly onbekend. Hulle was moontlik getroud, aangesien hulle dieselfde huis bewoon het waarheen hulle Jesus genooi het (vers 29). Lukas sit die reis-tema voort van Jesus se lydenspad na Jerusalem en Golgota. Na die einde van Jesus se lydenspad in Jerusalem, brei sy reis uit na dié twee reisigers. Hulle is onbewus daarvan en heken nie hul reisgenoot nie. Skrifverklaardes wys op die motief van blindheid wat hier na vore kom. Waar en hoe sien ’n mens die openbaring van God in Jesus Christus?

Lukas het reeds in vers 1-11 vertel Jesus het aan die vroue verskyn, maar die apostels het hul mededelings nie geloofwaardig gevind nie: “vir die apostels het hierdie woorde na leë praatjies geklink, en hulle het die vroue nie geglo nie” (vers 11). Jesus se verskyning aan die vroue bied ’n belangrike konteks vir die Emmaus verhaal. Die dissipels het nie geglo of verstaan wat die opstanding van Jesus uit die dood ter sprake gebring het nie. Die twee reisigers het klaarblyklik die mening van die groter groep dissipels gedeel. Die bewegings van hul storie dui egter aan hoe hul blindheid gaandeweg oorwin is: Eers ontmoet hulle Jesus langs die pad, maar herken Hom nie (vers 13-16), dan volg ’n gesprek met Jesus (vers 17-27), en ’n maaltyd (vers 28-32) waarna hulle terugkeer Jerusalem toe (vers 33-35), waar vreemde dinge gebeur het. Hulle gaan vertel daar vir die dissipels wie nie die vroue se storie wou glo nie, dat hulle nou sien.

In Jesus se gesprek met die twee verslae reisigers, is sy uitleg van die Skrifte oor Hom, vanaf Moses en die Profete (vers 25-27) deurslaggewend vir die transformasie wat in hulle moes deurbreek. Hulle was vasgevang in die gebeure van Jesus se lyding. Hulle het alle detail van die gebeure geken en was verbaas toe hul onbekende reisgenoot (Jesus) aandui dat Hy oningelig was daaroor: “Is u die enigste vreemdeling wat nie weet van die dinge wat in hierdie dae in die stad gebeur het nie?” (vers 18). Al was hulle bekend met alle aspekte van Jesus se verhaal, was hulle steeds blind vir Jesus se ware identiteit soos die Skrifte oor Hom getuig. Jesus was volgens hulle onkundig oor wat in Jerusalem gebeur het, maar hulle was self in dieper onkunde verstrengel, aangesien hulle nie vir Jesus herken het as die Verlosser waarvan die Skrifte getuig nie. Jesus moes hulle (en ons) leer oor die waarheid.

Lukas gebruik sakramentele taal om sy storie te vertel, wanneer Jesus die brood neem, dit seën en dit breek. Daarmee skep Jesus die oomblik van herkenning. Sy dissipels besef Hy is die Opgestane Here. Lukas 24:13-35 is ’n verhaal oor woord en sakrament. Herkenning van Jesus in die sakrament begelei die dissipels om die voorafgaande uitleg van die Skrifte te verstaan: “hoe Hy met die breek van die brood aan hulle bekend geword het” (vers 35).

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Derde Week van Pase – Jaar A