MATTEUS 28:16-20 (2020-vertaling)

Sondag na Pinksterfees in die Christelike Jaar, staan bekend as Drie-eenheidsondag (Triniteit) en lei die lang tweede deel van die Christelike Jaar in. Koninkrykstyd (ook: Gewone Tyd of Sondae na Pinkster) strek dié jaar oor 27 weke, tot Sondag van Christus die Koning (22 Nov). Koninkrykstyd fokus op die heerskappy van die opgestane Christus en sy dissipels se geloofsgetroue navolging van hulle Heer en Leermeester. In Jaar A volg Revised Common Lectionary (RCL) Matteus se vertelling van Jesus se bediening. Die grootste deel van die afgelope Lydenstyd tot Pinksterfees, het RCL die Johannesevangelie gevolg. Nou keer RCL terug na die Matteusevangelie tot aan die einde van Koninkrykstyd. Dit is interessant dat RCL by die laaste vyf verse van Matteus se vertelling begin. Dit is wel gepas op Drie-eenheidsondag, omdat dit as’t ware ’n samevatting bied van die sentrale temas wat in die voorafgaande verhaal ter sprake was. Die gesag van die opgestane Christus en die taak van sy dissipels word hier beklemtoon.

Nadat Maria Magdalena en die ander Maria op die eerste dag van die week by Jesus se graf opgedaag (28:1), die engel vir hulle gesê het Jesus is opgewek uit die dood (28:7) en hulle van die graf af gehardloop het om die boodskap aan sy dissipels oor te dra (28:8), het Jesus hulle onverwags tegemoet gekom (28:9) en beveel om vir sy broers te gaan sê hulle moet na Galilea gaan waar hulle Hom sal sien (28:10). Vers 16 vertel dat die elf dissipels die opdrag gehoorsaam en na Galilea gegaan het, na die berg waarheen Jesus hulle ontbied het. Die toneel by ’n berg, herinner aan gebeure in Matteus se vertelling waar ’n berg die ruimte was vir Jesus se optrede en lewensveranderende ontmoetings. Dit dwing ons om na te dink oor wat op die berg gebeur het toe Jesus deur die Duiwel versoek is (Matt 4:1-11), wat Jesus aan sy dissipels geleer het met die Bergpredikasie (Matt 5-7), oor Jesus se verheerliking op die berg met die stem uit die wolk (Matt 17:1-13), en Jesus se laaste (profetiese) rede op die Olyfberg (Matt 24:3-25:46). Nou is dit ’n berg by Galilea en nuwe verwagtinge word daardeur opgeroep.

Dit is verrassend dat die dissipels verskillend reageer op Jesus se verskyning. Terwyl waarskynlik die meerderheid Hom aanbid het, het sommige geaarsel. Die Griekse woord kan ook vertaal word met ‘twyfel’. Was hulle onseker of dit werklik Jesus is, of was hulle onseker of hulle as getroue Joodse gelowiges wat Jahweh dien as die een ware God, werklik vir Jesus moet aanbid? Dit is nie glashelder nie. Stel jouself in hulle posisie. Dit is ’n tyd van oorgang en vernuwing. Wie is Jesus nou? Dit is wel duidelik dat die meerderheid Jesus aanbid het en dat Matteus hulle optrede goedkeur. In vers 20 beklemtoon Jesus wie Hy is en verbind sy uitspraak dat Hy by hulle (ons) is aan die aankondiging van die engel aan Maria dat sy geboorte sal gee aan ’n seun en hulle sal Hom Immanuel noem, “God met ons” (Matt 1:23)

Dan verklaar Jesus alle mag in die hemel en op die aarde is aan Hom die opgestamne Here gegee. Hy het die dood oorwin en het mag om lewe, God se nuwe lewe, te laat floreer. Dat die opgestane Jesus oor die hele wêreld heers, is dié belangrikste resultaat van sy opstanding en is gedeeltelik wat sy Messiasskap beteken. Jesus is besig om die wêreld uit die heerskappy van elke vorm van boosheid te neem na die heerskappy van sy lewegewende liefde. Die manier waarop Jesus dié vernuwingsproses gaan deurvoer, is deur die geloofsgetroue bediening van ons, sy volgelinge. Jesus stuur sy dissipels om die nasies van Hom te leer, mense wat tot geloof in Hom kom te doop in die Naam van die Vader en die Seiun en die Heilige Gees, én om hulle te leer om alles te onderhou wat Jesus beveel het. Ook ons wat glo in Jesus se opstanding het die verantwoordelikheid om getuies te wees dat Jesus die ware lewe gee én die Lewe is.

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond