LUKAS 14:1, 7-14 (2020-vertaling)
Op Jesus se reis na Jerusalem in Lukas se vertelling (9:51-19:27), breek nog ’n Sabbat aan. Ons weet reeds die reis-tema is kenmerkend van Lukas se vertelling. Saam Lukas op Jesus se reis na Jerusalem, het die Sabbat-tema óók ons aandag getrek, soos in dié oordenking. Tydens stilhou geleenthede op Jesus se reis waar Hy in gesprek is met verskillende gehore, leer ken ons Hom as Leermeester. Op die Sabbat, soos hier in 14:2-6 (ook 13:10-16), ontmoet ons ook die Geneesheer van siekes. Jesus se genesing van mense op die Sabbat laat Hom bots met die godsdienstige leiers van die Jode (13:14). Dit lei tot sy vraag of dit toelaatbaar is om op ’n Sabbat te genees of nie. Jesus antwoord self dié vraag (13:15-16; 14:4-5) deur twee persone gesond te maak en God se deernisvolle liefde te demonstreer.
Op die Sabbat van ons meditasie speel die toneel af in die huis van ’n leier van die Fariseërs. By dié geleentheid is Jesus ’n gas by ’n maaltyd na afloop van die sinagoge byeenkoms. Die tema van eet en maaltye is nóg een van Lukas se kern temas. Vir Lukas het maaltye diep teologiese betekenis. Brood was belangrik. Waar sommige wel brood het om te eet terwyl ander niks het om te eet nie, sou die koninkryk van God volgens Lukas 16:19-31 afwesig wees. Om saam brood te breek (saam te eet) was ’n toetssteen vir insluiting in die gemeenskap van iemand wat vreemd of van ’n ander kultuur was (Hand 11:1-3). Gemeenskapsmaaltye was in die kern van die geloofsgemeenskap. Die opgestane Here het aan die Emmausgangers bekend geword met die breek van die brood saam met hulle (Luk 24:35).
In die konteks van dié teologies ryk gebeurtenis, skryf Lukas dat die Fariseërs Jesus fyn dopgehou het. Hulle het Hom getoets en beoordeel. Hulle was agterdogtig oor Hom. Hulle wou vasstel of Hy één van “hulle” was. Waarvan sou hulle bewus word oor wie Jesus is toe Hy die man met watersug genees het (vers 4)? Wat sal ons by en van Jesus leer as ons fyn dophou wat Hy in ons Skrifdeel as Geneesheer doen en as ons skerp sou luister na wat Hy as Leermeester sê? In vers 7 van ons Skrifdeel skryf Lukas dat Jesus op sy beurt ook die gaste dopgehou het. Hy het opgemerk hoe die genooides die ereplekke aan die tafel uitsoek. Jesus het hul optrede beoordeel in die lig van die waardes van God se koninkryk en die gesindheid van hul harte uit hul optrede afgelei. Hy het ook opgemerk wie nié genooi is nie.
Jesus vertel twee gelykenisse oor die uitnooi van gaste na maaltye. Die eerste (vers 8-11) rig Hy aan die genooide gaste by die maaltyd. Jesus verbeel ’n bruilofsfees waarheen gaste uitgenooi word. Hy gee praktiese raad oor hoe ’n gas behoort op te tree wanneer hy by die feesmaal aankom. Die tweede gelykenis bring Jesus pertinent onder die aandag van die gasheer wat Hom na die maaltyd in sy huis genooi het (vers 12-14). In albei gevalle beklemtoon Jesus mense se hoogmoed en gewaande belangrikheid. Genooide gaste kan hul eie status oorskat en sosiale verleentheid op die hals haal deur plekke by die maaltyd op te eis wat die gasheer vir ander bedoel het. Andersyds, kan ’n gasheer slegs mense na sy tafel nooi van wie hy die verwagting het dat hulle sosiaal en ekonomies by magte is om sy uitnodiging te kan nadoen deur hom weer na hulle maaltyd uit te nooi – as vergoeding .
Jesus maak sy gasheer en mede-gaste bewus van nederigheid in God se koninkryk, teenoor mense se neiging tot self-belang en sosiale erkenning: “Want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhoog word” (vers 11). En Jesus leer sy gasheer dat dit God is wat aan mense erkenning gee, wel op sý tyd, vir diensbaarheid en barmhartigheid aan ander: “…want jy sal beloon word by die opstanding van die regverdiges” (vers 14). God sien ons optrede en ons gesinheid.
Wat merk Jesus op, in die lig van sy koninkryk, as Hy na jou kyk waar jy tussen mense leef en beweeg?
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Twaalfde Week van Koninkrykstyd – Jaar C: Vrydag 5 September 2025
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond