MATTEUS 9:35-10:8 (9-23) (2020-vertaling)
Ons reis met Matteus in Koninkrykstyd van die Christelike Jaar. Hy vertel die verhaal van Jesus se bediening op sy unieke manier. Hy leer ons hoe Jesus sy gesag as Seun van God uitoefen, maar ook dat Hy sy gesag aan sy dissipels oordra vir sy voortgaande bediening deur hulle. Matteus se weergawe van Jesus se bediening in 3:1-26:1a ontvou in vyf herkenbare dele, met ’n formule aan die einde van elke diskoers of redevoering, byvoorbeeld die eenheid van ons Skrifdeel (9:35-11:1): “Toe Jesus sy opdrag aan sy twaalf dissipels voltooi het…” (11:1a, 2020-vertaling).
Dié narratiewe eenheid begin met die mededeling dat Jesus in al die stede en dorpies rondgegaan het om daar te bedien (9:35). Hy het die skare gesien, hulle innig jammer gekry (9:36), sy twaalf dissipels na Hom toe geroep (hulle name genoem), aan hulle gesag gegee vir die bediening onder die mense (10:1), en hulle uitgestuur met die opdrag om eers na die “verlore skape van die huis van Israel” te gaan (10:5). Matteus 10:5-23 bevat ’n versameling instruksies van Jesus aan die dissipels vir hul bediening. Anders as die ander Evangeliste, konsentreer Matteus Jesus se lerende instruksies saam, wat breedweg handel oor deernis (compassion), uitstuur (commission) en vereistes/voorwaardes (conditions) vir die sending taak.
Die tema van Jesus se gesag in woord en daad wat in hoofstuk 5-9 aan die orde was, word nou uitgebrei na sy dissipels toe. Hulle bediening word hier noukeurig beskryf in parallelle terme aan en afgelei uit Jesus se bediening, soos aangebied in Matteus se tweede versameling van Jesus se onderrig temas (hfst 5-7). Die samebindende tema is dié van die dissipels se gestuurdheid (sending) en lyding. Jesus se sending opdrag aan sy dissip[els volgens Matteus se vertelling, sluit aan by Markus 6:7-13 en Lukas 9:1-6. Matteus voeg egter ’n element by, naamlik die dringendheid wat hul sending aktiwiteite aanvuur, asook die sekerheid van vervolging wat hulle kan verwag deur daaraan deel te neem.
Die woorde van Matteus 9:35 is omtrent identies aan 4:23, wat beteken dat hoofstuk 5-9 omraam word met die drievoudige karakter van Jesus se bediening, naamlik: lering, prediking en genesing. In dieselfde asem beklemtoon die herhaling van die woorde “elke siekte” en “elke kwaal” (10:1) ten opsigte van die dissipels se opdrag, dat Jesus se bediening (hfst 5-9) nou aan hulle oorgedra word. Dié woorde roep die verwysing na “al die stede en dorpies” (9:35) waar Jesus bedien het, op. Dit bevestig dat die aktiwiteite van hoofstuk 8-9 in die geografiese gebied van Kapernaum, slegs ’n tipering was van Jesus se bediening en nie ’n volledige verslag nie. Dit is interessant om te reflekteer oor ’n uitkringende geografiese beweging in Jesus se sending opdrag, veral in die lig van die laaste verse van die Matteusevangelie: “Gaan dan en maak dissipels van al die nasies…” (28:19). In 10:6 noem Jesus die “verlore skape van die huis van Israel”.
Dit is ook interessant om na te dink oor die spesifieke aktiwiteite waaroor Jesus aan sy dissipels gesag verleen in 10:7-8, in vergelyking met 10:35 en later met 28:19-20. Wanneer Jesus die twaalf uitstuur, noem Hy verkondiging van die koninkryk van die hemele, gesag met betrekking tot genesing van siekes, opwekking van dooies, reiniging van melaatses en uitdryf van demone. In 28:19 gee Jesus die opdrag om die nasies sy dissipels te maak, deur hulle te doop en hulle te leer. Is dit net ’n oorsig van Jesus dat Hy in 10:7-8 nie ook praat van lering nie, soos wat Hy in 9:35 self gedoen het?
Jesus se medelye en die nood van mense vuur die dringendheid vir bediening aan én skep die geleentheid daartoe. Die kring vir bediening brei steeds uit. Jesus se deernis vir mense is die vuur wat ons dryf.
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Derde week in Koninkrykstyd – Jaar A