MATTEUS 3:11-17 (2020-vertaling)
Kenmerkend van Epifanie is ’n gees van ontdekking waarvan ons gedurende dié seisoen van die Christelike Jaar bewus word – van telkens nuwe dimensies van Jesus en sy teenwoordigheid in ons lewe. Epifaniefees is die oudste en oorspronklik belangrikste Christelike fees. In die Epifanie seisoen het die Kerk tradisioneel drie spesifieke gebeurtenisse van Jesus se aardse lewe gedenk: besoek van die sterrekenners (Matt 2:1-12), Jesus se doop (Mark 1:9-12), en wonderlike voorsiening van wyn by die bruilof te Kana (Joh 2:1-11). Dié week staan ons stil by Jesus se doop deur Johannes die Doper, soos wat Matteus die gebeure aan ons oorgelewer het.
Johannes die Doper het in die openbaar begin optree in die woestyn van Judea (3:1) toe Jesus saam met sy ouers in Nasaret gaan woon het (2:23). Tydens Johannes se optrede in die woestyn het Jesus by die Jordaan aangekom en na Johannes gegaan om deur hom gedoop te word (3:13). In dié tyd het inwoners van Jerusalem, die hele Judea en die hele Jordaanomgewing na Johannes toe gegaan om deur hom gedoop te word, terwyl hulle hul sondes bely het (3:6). Toe baie van die Fariseërs en Sadduseërs ook na hom toe gekom het om gedoop te word (3:7), het Johannes sy eie posisie ondubbelsinnig teenoor hulle verklaar en aangekondig: “Hy wat na my kom, is sterker as ek, en ek is nie eers werd om sy sandale vir Hom aan te dra nie” (3:11).
En toe kom Jesus by Johannes aan om deur hom gedoop te word. Die oomblik van ontmoeting is ontmaskerend. Johannes reageer verrassend asof hy nie sy eie posisie verstaan nie. Hy het Jesus probeer teengaan met die woorde: “Ek behoort deur U gedoop te word, en U kom na my?” (3:14) Johannes se woorde wek die indruk dat hy onkant betrap is deur Jesus se verskyning. Het Johannes Jesus nie herken as “Hy wat na my kom” nie? Of, het Jesus se versoek Johannes oorweldig omdat hy nie verwag het die taak om Jesus te doop, sou hom opgedra word nie? Wie is dié Jesus? Die ontmoeting tussen Jesus en Johannes beweeg mens tot dieper nadenke oor jou eie belydenis oor wie Jesus is en wat die spesifieke roeping op jou lewe om Jesus na te volg, werklik kan behels.
Dit verras mens wel dat Jesus by Johannes opdaag, saam met mense wat kom om hul sonde te bely. Dat Jesus Homself tussen sondaar mense plaas, moes Johannes verwar het. Hoe kan die sondelose Seun van God aandring op vergewing van sonde? Jesus se regstellende verklaring na aanleiding van Johannes se onwilligheid, plaas egter God se plan met Jesus se menswording en sy gestuurde roeping vir die wêreld in perspektief. Jesus beklemtoon dat “alle geregtigheid vervul” (3:15) moet word. Hy moet in sy vernedering as dienskneg met elke aspek van die sondige mensheid identifiseer, om God se liefde vir sondaars te openbaar en die konsekwensies van God se verlossingsplan deur te voer. Jesus kom staan tussen sondaars en Hy ondergaan die doop wat vir hulle die wegwyser na Hom toe was. Die sondaar se sonde word deur Hom wat sterker is as Johannes afgewas.
Dan gebeur die Goddelike identifikasie voor die oë van sondaars, wanneer die onwillige Doper nog onseker probeer uitmaak wat God se opdrag aan hom spesifiek is. Johannes doop vir Jesus en Hy staan uit die water op. Op daardie oomblik, meteens en sonder waarskuwing, gaan die hemele vir Jesus oop om sy ware identiteit as die Sterker Een aan te kondig en te bevestig. Die Gees van God daal soos ’n duif op Jesus neer en God spreek met hoorbare stem uit die hemel: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug” (3:17). So beantwoord God die vraag oor wie Jesus is en gee Hy inhoud aan Johannes se boodskap dat hy net die een is wat in die woestyn roep en die pad vir die Here gereed maak (3:3). Met Jesus se doop kom daar klaarheid oor identiteit: Sondaarmense het verlossing nodig; Die Sterker Een bring verlossing vir sondaars; Johannes en ons word geroep om oor Jesus as Here te getuig.
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Eerste Week na Epifanie – Jaar A