LUKAS 24:44-51 (2020-vertaling)
Dit is die dag na die kerk van Christus se viering van die Fees van Hemelvaart in die Christelike Jaar. Revised Common Lectionary (RCL) neem ons na die enigste Evangelie wat vertel van Jesus se hemelvaart, soos net hy alleen die verhaal vertel van Jesus se ontmoeting met die twee dissipels op pad na Emmaus (24:13-31), na sy opstanding uit die dood. Alhoewel ons Lukas 24:44-51 veertig dae na Paasfees lees, vertel Lukas die storie oor Jesus se hemelvaart asof dit ’n dag na sy opstanding gebeur, direk na die Emmaus verhaal. In Lukas se kronologie van gebeure, verskyn Jesus skielik by sy dissipels (vers 36) waar hulle na die Emmausgangers luister. Jesus wys hulle sy wonde en vra hulle iets te ete, wat Hy voor hulle eet (vers 43).
Ons Skrifdeel begin met ietwat verwarrende woorde van Jesus aan sy dissipels: “Dit was my woorde wat Ek tot julle gerig het toe Ek nog saam met julle was…” (vers 44), asof Hy nie toe wel by hulle is nie. In haar meditasie hieroor skryf Margaret Aymer dit is asof Lukas met dié woorde as’t ware ’n tussen-in tyd open, ’n drempel ruimte, ’n grensgebied tussen die wêreld wat die dissipels nog bewoon en die werklikheid van Jesus se opstanding. Daarvolgens dui Jesus se woorde daarop dat die dissipels (en ons) op pad is na ’n nuwe verhouding met Jesus. Jesus is in dié stadium nie meer by hulle in dieselfde gestalte as in die verlede nie. Sy teenwoordigheid en hulle verhouding staan op die punt van radikale transformasie. Wat beteken dit vir Christus se kerk vandag om met dié tussentydse werklikheid in gedagte te lewe?
Met Jesus se laaste woorde gaan Hy verder as toe Hy die Emmausgangers oor die Skrifte van Moses en die Profete onderrig het (24:27). Lukas skets nou ’n visioen van toekomstige vervulling, ’n visie van berou en vergiffenis van sonde wat aan die heidene verkondig sal word; diegene wat buite God se verbond met Israel staan. Vroeër het Lukas vertel (3:3) dat Johannes die Doper in die hele omgewing van die Jordaan rondbeweeg en die doop van bekering met die oog op die vergewing van sondes verkondig het. Hier keer die kronologie in tyd om. Die verlede van Johannes se sending word nou die voorwoord vir die missie van die kerk van Christus; na buite die omgewing van die Jordaan om God se geliefde wêreld te bereik. So rig Jesus ook ons visie vandag op die onsienbare toekoms in die rigting van God se vervulling.
Met sy laaste woorde volgens Lukas se vertelling, roep Jesus sy dissipels op om te wag. Hulle aandeel in dié nuwe toekoms wat Jesus beliggaam, berus by God. Jesus se volgelinge moet wag op die belofte van God, op die krag van God (vers 49). Die praktyk van die Christelike Jaar en die struktuur daarvan om tien dae tussen die Fees van Hemelvaart en Pinksterfees af te sonder vir geloofspraktyke om Jesus se onderrig oor wag vir toerusting uit die hoogte, bied geleentheid om te reflekteer oor ons eie lewe en ingesteldheid. Hoe word ons vandag uitgedaag om God se tydslyn te wil vooruitloop? Dit bied geleentheid om tydens Pinksterdienste te besin oor wat dit beteken om geloofsgetrou te wag op God se bekragtiging van sy kerk.
In vers 50 hef Jesus sy hande op en seën sy dissipels. In die Lukasevangelie beweeg Jesus se bediening vanaf die engel se aankondiging aan Maria dat sy aan ’n seun geboorte sal gee (1:30-38) tot hier by die laaste seënbede. So beweeg Lukas se vertelling van Jesus se verhaal verby die kruis en leë graf om te eindig met Jesus se seënbede wat Hy oor God se kinders uitspreek. Met dié seënbede begin God se verhaal as’t ware weer van nuuts af. Soos die skaapwagters in Lukas 2:20 terugkeer en God op hul beurt verheerlik (seën), keer die dissipels nou ook terug na waar hulle begin het; met vreugte en in afwagting op God se krag. Nou word ek en jy ook uitgenooi om op Jesus se seënbede en belofte te reageer.
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Sesde Week van Pase – Jaar A