MATTEUS 5:1-12 (2020-vertaling)

Die Vierde week ná Epifanie word ook aangedui as Gewone Tyd op die Christelike Kalender. Dit bring ons by ’n belangrike liturgiese moment vir sommige kerklike tradisies vir wie die eerste Sondag van Februarie diep geestelike betekenis het en hernude toewyding by gelowiges verteenwoordig. Dié tradisies vier die Vierde Sondag van Gewone Tyd as Verbond- en Verbintenis Sondag, waartydens gelowiges saamkom om hul geloof te herbevestig en hul geloftes aan die Here te hernu. Ons Skrifdeel nooi ons uit om oor ons verbintenis aan Christus te peins en ons dissipelskap opnuut te ondersoek.

Aan die begin van ’n nuwe kalenderjaar bied dié liturgiese moment geleentheid aan gelowiges om hul harte met God en met mekaar te belyn, geloofsbande te versterk en vorentoe te beweeg met nuwe doelgerigtheid en vaste toewyding (commitment). Ons volg Matteus se vertelling van Jesus se menswording en gehoorsaamheid aan sy Vader se gestuurde opdrag. Matteus 3:12-25 vertel van Jesus se omvattende bediening in Galilea; verkondiging van die koninkryk en oproep tot bekering, lering en onderrig in hul Sinagoges, asook genesing van elke siekte en elke kwaal onder die volk (4:23).

Jesus het ’n kern groep individue begin versamel om hulle toe te rus en te vorm as sy dissipels, sodat hulle sy koninkryksbediening in die toekoms sou kon voortsit (4:18-22). In 5:1-2 vertel Matteus Jesus het teen die berg opgegaan, die posisie van ’n leermeester ingeneem (gaan sit) en sy dissipels geleer. Ons Skrifdeel is deel van Jesus se Bergpredikasie (hfst 5-7) waarin Hy die raamwerk skets vir die aangekondigde koninkryk van die hemele wat op hande is, asook wat die nuwe gemeenskap van bekeerdes behels, waartoe Hy hulle geroep het (4:17). Jesus leer hulle wat ware geluk behels.

Regdeur die Saligsprekinge gebruik Jesus die meervoudsvorm, “hulle”. Dié aanspreekvorm verwys na die gemeenskapslewe en nie bloot na persoonlike vroomheid of piëteit nie. Jesus beskryf die leefwyse wat gelowiges behoort te volg in hulle verhouding met mekaar binne hulle leefwêreld. Matteus beweeg buite ’n letterlike betekenis van die kategorieë (armes van gees, dié wat treur, sagmoediges, dié wat honger en dors na geregtigheid, barmhartiges, dié wat suiwer van hart is, vredemakers, dié wat vervolg word) wat Jesus in sy lering aan sy dissipels bespreek om die karakter van dissipelskap uit te lê. Die fokus is op die geestelike betekenis van die kategorieë.

Die konsep “armes” (vers 3) het in Israel ’n styl van vroomheid beskryf waarvolgens niks anders nie as net God, beskou is as basis vir bestaan en sekuriteit. Die gebrek aan besittings het geleentheid gebied vir radikale afhanklikheid van en vertroue op God. Mense wat in radikale afhanklikheid van God aan Hom toegewyd gelewe het, was vry van allerlei wêreldse bande. Die kategorie “treur” (vers 4) word deur sommige uitleggers geassosieer met berou wat voortvloei uit opregte erkenning van jou eie of gemeenskap sondes. Die vertroosting dui dan op God se versterking van glowiges wat doelgerig daaraan werk om oortredings te oorkom wat aanleiding gee tot persoonlike en strukturele sonde.

Sagmoediges (vers 5; Eng. “meek”) is verwant aan die kategorie “armes”. In die Ou Testament dui dit op onderwerping of onderdanigheid van die menslike wil aan die wil van God. Hulle sal die aarde erf. Dit kan beteken dat mense wat hulle aan God se wil onderwerp, vertrou kan word om God se toekomstige wêreld (Op 21:1) te versorg. Die spreuk oor honger en dors na geregtigheid (vers 6) spoor ons aan om met ywer God se voorskrifte vir lewe na te jaag. God sal dié soort honger en dors versadig.
Vers 3-10 vorm ’n eenheid wat ingebind is deur die frases in verse 3 en 10 : “aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.” Jesus se saligsprekinge skets sy andersoortige nuwe wêreld en die waardes waaraan sy dissipels moet oriënteer om gelukkig te wees. Hierop gaan Matteus verderaan uitbrei.

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Vierde Week na Epifanie – Jaar A