’n Regte of ’n verkeerde gesindheid, kan letterlik jou lewe maak of breek, en die regte gesindheid begin met nederigheid. Ja, ek weet dit klink na ’n teenstrydige argument. Is dit nie juis die nederiges wat verder verneder word nie?
Om nederig te wees, beteken egter nie dat jy met ’n ‘jammer-ek-leef-houding’ rondloop nie. Inteendeel, wanneer ’n mens ’n nederige gesindheid het, is jy nie selfgesentreerd, selfbejammerend en selfregverdigend nie.
Met ander woorde, jy kan uitstyg bokant moeilike omstandighede omdat jy nie glo dat jy ’n beter lewe geskuld word nie.
Jy bejammer nie jouself omdat jy nie het wat ander het nie. Jy is dankbaar en vertrou op God om in jou behoeftes te voorsien.
Jy gebruik wat jy het en maak die beste daarvan, en jy gee ook nie ander die skuld vir jou huidige situasie nie, want jy aanvaar verantwoordelikheid vir die keuses wat jy maak.
Mense met ’n selfgesentreerde houding neem baie vinnig aanstoot wanneer hulle gemak versteur word, of wanneer daar van hulle verskil word. Die gevolg hiervan, is dat hulle nooit die geleentheid aangryp om te groei nie – hulle wil nie die ongemak verduur nie, en glo dat hulle reeds genoeg weet.
Selfbejammering en selfregverdiging maak weer van jou ’n verbitterde mens wat naderhand nie meer die mooi in die lewe kan raaksien nie. Jy is skepties en krities, en mense moet op eiers om jou loop. So ’n gesindheid laat verhoudings skade lei, wat tot gevolg het dat jy jouself net nog meer jammer kry, en ander die skuld gee vir jou ongelukkigheid.
Hoor watter raad gee Paulus:
‘Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie,’ Filippense 2:5-6
Dit is makliker gesê as gedaan. Almal van ons kry ons self met tye jammer. En dit is menslik om vinger te wys wanneer dinge moeilik raak.
Die groot geheim is om deur daardie dinge in jou lewe waaroor jy onseker voel te werk, want dít is gewoonlik die gebiede waarop jy te maklik aanstoot neem. In Engels praat hulle van jou ‘triggers’. Jy mag die Heilige Gees vra om jou hiermee te help.
Wil jy uitstyg bo jou omstandighede? Wil jy sterker anderkant uitkom? Jou volle potensiaal uitleef?
Begin deur die regte gesindheid teenoor die lewe te hê. Maak Psalm 37:4-5 jou lewensleuse:
‘Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer. Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.’ Psalm 37:4-5
Geskryf deur Madeleine Venter