As jy ’n wedergebore Christen is, het jy ’n storie van redding wat bedoel is om gedeel te word. Jou getuienis van die Vader se liefde, Christus se offer, en die Heilige Gees se nuutskepping kan vir iemand die verskil tussen lewe en dood beteken.

‘Baie van die Samaritane in daardie dorp het tot geloof in Jesus gekom op grond van die woorde van die vrou wat getuig het: “Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.”’ Johannes 4:39

Wanneer jy jou getuienis deel, is dit vir ander makliker om die evangelie te glo en te verstaan. Jou storie hoef ook glad nie vreeslik dramaties te wees nie. Soms is dit juis die eenvoudigste getuienisse wat die grootste impak het. Mense moet juis met jou storie kan identifiseer, en nie almal het ’n Damaskus-ervaring nodig nie.

Soms plaas God jou in situasies waarin jy nie noodwendig graag wil wees nie. Die rede daarvoor is juis sodat jy jou getuienis kan bring aan mense met wie jy nie normaalweg te doen sou gekry het nie.

’n Voorbeeld hiervan is die gelowiges wat moes vlug toe Paulus die kerk probeer uitroei het. Oral waar hulle gekom het, het hulle die mense van Jesus vertel. So het Filippus byvoorbeeld die evangelie in Samaria, aan die Etiopiër, en later van Asdod tot in Sesarea verkondig. (Hand. 8)

In Lukas 21 waarsku Jesus sy dissipels dat hulle vervolg gaan word, en voor konings en goewerneurs sal moet verskyn. Beslis nie ’n lekker vooruitsig nie. Dan voeg Hy egter by:

‘Dit sal vir julle ‘n geleentheid wees om van My te getuig. Stel julle dus daarop in om julle nie vooraf oor julle verdediging te kwel nie, want Ek sal vir julle die woorde en die wysheid gee wat deur geeneen van julle teenstanders teengespreek of weerlê kan word nie.’ Lukas 21:13-15

Miskien het iemand met wie jy elke dag te doen kry nodig om jou getuienis te hoor. Of dalk wil die Here hê jy moet jou storie aan daardie pasiënt wat in die hospitaalbed langs joune lê vertel. Die Heilige Gees sal jou lei, en Hy getuig altyd saam met jou. (Heb. 2:4; Hand. 1:8; 4:31)

‘En die getuienis behels dít: God het ons die ewige lewe gegee, en dié lewe is deur sy Seun.’ 1 Johannes 5:11

Moet dus nie bang wees om jou getuienis te deel wanneer die geleentheid daarvoor oor jou pad kom nie. Of dit nou binne of buite jou gemaksone is, vertel net jou storie.

 

Geskryf deur Madeleine Venter