Jesus het gesê Hy gaan op die derde dag opstaan uit die dood, en Hy het. Die Sondagoggend vroeg het die vroue ’n leë graf gevind en ’n engel hoor sê:

‘Hy is nie hier nie. Hy is uit die dood opgewek. Onthou hoe Hy met julle gepraat het toe Hy nog in Galilea was en gesê het: Die Seun van die mens moet uitgelewer word in die hande van sondige mense, gekruisig word, en op die derde dag opstaan.’ Lukas 24:6-7

Daar is nog iets wat Jesus gesê het, en hierdie keer het hy oor óns gepraat:

‘Moenie hieroor verbaas wees nie: daar kom ‘n tyd wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan. Dié wat goed gedoen het, sal opstaan en lewe, en dié wat verkeerd gedoen het, sal opstaan en veroordeel word.’ Johannes 5:28-29 (eie klem)

Net soos wat Jesus se graf nou leeg is, gaan jou graf ook eendag leeg wees! Hy het gesê dat dit so gaan wees, en dit sal. Ons hoef nie meer die dood te vrees nie. Met sy opstanding het Hy die dood oorwin. Dit het geen mag oor Hom gehad nie, en dit het nou geen mag oor ons nie. (1 Kor. 15:55)

Hierdie waarheid maak ons vry. Jy kan ten volle leef in die wete dat dieselfde krag wat Hom uit die dood uit opgewek het, ook in jou werksaam is. (Ef. 1:18-21) Jy kan elke oomblik laat tel, omdat jy weet dat jy op hierdie aarde geplaas is om die goeie werk te doen wat Hy vir jou beplan het. (Ef. 2:10) Jesus se opstanding beteken dat jy nou kan uitsien na ’n ewigheid saam met Hom.

‘Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.’ Romeine 8:11

Is dit nie ’n wonderlike vooruitsig nie? Is dit nie wonderlike troos om te weet dat ons weer saam met ons geliefdes gaan wees nie? Hy het gekom sodat ons die lewe kan hê.

Loof Hom vandag vir ’n leë graf!

 

Geskryf deur Madeleine Venter