Wanneer laas het jy gejubel? Hét jy al ooit gejubel?
Om te jubel beteken om uitbundig te juig. Miskien het jy al uitbundig gejuig by ’n sportbyeenkoms, of ’n musiekkonsert.
Maar het jy al ooit so uitbundig voor die Here gejuig soos daardie dag toe jou gunsteling span gewen het?
Dit kan wees dat jy al soos Dawid in Psalm 35:9 gevoel het: ‘Maar ek sal juig in die Here, ek sal jubel oor die redding wat Hy bring.’ Om dit egter fisies te doen is ’n heel ander storie.
En dit is een van die redes waarom samekoms van gelowiges nodig is. In die Kerk, by die Bybelstudie, wanneer julle as selgroep bymekaar kom – Paulus sê:
‘… sing saam psalms en lofgesange en geestelike liedere. Sing en jubel met julle hele hart tot eer van die Here.’ Efesiërs 5:19 NLV
Ek het vir die eerste keer werklik beleef hoe mense saam jubel voor God tydens ’n uitreik na Mosambiek. Ons kerk het geld ingesamel om vir een van die kerkgeboue daar – of ‘prayer houses’ soos hulle dit noem – ʼn nuwe dak te laat opsit. Hulle dak het tydens een van daardie gebied se berugte reënstorms in die slag gebly. Dit was ’n baie nederige geboutjie. Warm en bedompig, met ’n paar ongemaklike houtbankies. Maar dit is waar hulle gereeld bymekaar gekom het om die Here te aanbid, en nou kon hulle dit weer doen. Daaroor was hulle so bly dat hulle gejuig het. Gedans en gesing het voor die Here. Gejubel het.
So iets het ek nog nooit beleef in enige ander kerk wat ek al besoek het nie. En dit het my laat wonder, is ons nie miskien so gemaklik dat ons nie genoeg rede het om te jubel nie?
As Christene, behoort ons genoeg rede daarin te vind dat ons name in die Hemel opgeteken is (Luk. 10:20). En, soos wat daar in Romeine 5:11 staan, omdat daar in Christus, nou versoening tussen ons en God is.
‘Bo alles kan ons nou ook jubel in God omdat Jesus Christus ons Here ons bevoorreg het om nou God se vriende te wees.’ Romeine 5:11 NLV
Mag ons nooit vergeet dat ons elke dag ’n rede het om te jubel nie. Dit maak nie saak hoeveel teëspoed jy beleef of hoe donker die wêreld om jou raak nie. Jou vreugde lê nie daarin nie. Jy is ’n regverdige. Vrygekoop met Jesus se bloed. Beseël as die eiendom van God. Daar is vir jou ’n toekoms en ’n verwagting.
‘Jubel in die Here, regverdiges, sing ‘n loflied, opregtes! Loof die Here met die lier, speel vir Hom op die harp! Sing vir Hom ‘n nuwe lied, speel met volle oorgawe, jubel dit uit!’ Psalm 33:1-3
Geskryf deur Madeleine Venter