‘Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.’ 1 Tessalonisense 5:18
Ek wil jou vandag aanmoedig om saam met my terug te kyk op ’n jaar waardeur God se troue liefde ons weereens gedra het, en dan die nuwe jaar met ’n dankbare gemoed aan te pak.
Saam met die voornemens wat jy vir 2026 opgestel het, maak ook ’n dankbaarheidslys. Gaan skryf alles neer wat God verlede jaar vir jou gedoen het.
‘Dink aan al die groot wonderwerke wat die Here gedoen het. Onthou sy magtige dade, hoe Hy mense in nood uitgered het.’ Psalms 105:5 DB
Paulus skryf aan die Christene in Tessalonika dat God van hulle verwag om dankbaar te wees. Hy praat hier met ’n groep gelowiges wat daaglikse vervolging in die gesig gestaar het.
Hulle het dit dus nie maklik gehad nie. Tog moedig hy hulle aan om in alle omstandighede dankbaar te wees, en juis oor die rede waaroor hulle vervolg is: Hulle verbintenis aan Christus Jesus.
As hierdie gelowiges onder vervolging steeds dankbaar kon wees oor dit wat Jesus vir hulle gedoen het, hoeveel te meer kan ek en jy – wat vrylik ons geloof mag uitleef – nie elke dag met dankbaarheid in ons harte hieroor jubel nie?
‘Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.’ Efesiërs 1:3
Dit behoort heel bo aan jou lys te staan. En al is dit dan ook die enigste ding waaraan jy kan dink, is dit genoeg rede om in alle omstandighede dankbaar te wees.
Tog is ek seker daarvan dat jy nog redes sal kan byvoeg.
Miskien voel dit vir jou asof daar niks merkwaardig met jou gebeur het nie, maar het jy al daaraan gedink dat jy besig is om iemand anders se droom te leef?
Het jy twee bene? Die man met een been wens hy het twee gehad. En die man met geen bene nie, sou met een tevrede gewees het.
Is daar ’n dak oor jou kop? Iewers droom iemand van ’n warm, droë slaapplek. Het jy skottelgoed om te was en klere om te stryk? Kinders om rond te ry? ’n Tuin om te versorg? ’n Werk?
Kan jy lees en skryf? Het jy ’n Bybel?
Volgens UNESCO, is daar na beraming 739 miljoen ongeletterde volwassenes in die wêreld. En in ’n onlangse artikel deur Christian Daily International, word bekend gemaak dat ongeveer ’n 100 miljoen Christene steeds nie toegang tot ’n Bybel het nie.[i]
Kan jy sien hoe ons een vir een nog seëninge kan byvoeg?
Jy is geseënd. Gaan leef jou dankbaarheid hieroor uit.
‘Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af. ‘n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.’ Psalm 16:5-6
[i] https://www.christiandaily.com/news/report-finds-100-million-christians-worldwide-lack-access-to-a-bible-a-modern-famine-of-the-word
Geskryf deur Madeleine Venter