Geslagsregisters in die Bybel is nie iets wat jy sommer sal sit en lees nie, en mens wonder dikwels waarom dit in die eerste plek daar is. Watter geestelike boodskap hou ’n ellelange lys van name, waarvan jy die helfte nie eens kan uitspreek nie, nou juis vir jou in?
Ek wil egter juis vandag jou aandag hierop fokus – veral die een in Lukas 3:23-38. Lees bietjie deur daardie name, en dan skryf jy dié neer van wie jy al iewers in die Bybel gelees het. Jy sal vinnig besef dat dit maar net ’n handjievol is. Baie van daardie mense se stories weet ons niks van af nie.
Wat egter belangrik is, is dat hulle wel bestaan het. Hulle lewensdoel was groter as wat die meeste van hulle heelwaarskynlik ooit besef het – die Messias is immers uit hulle nageslag gebore.
En dit is die boodskap wat ek graag met hierdie oordenking wil deurgee: Jou lewensdoel, die rede vir jou bestaan, is ook groter as wat jy dalk ooit sal weet. Al voel jy eintlik maar onbeduidend en doodgewoon, jy is deel van ’n wonderlike, Goddelike plan. Net soos wat elke deeltjie van ’n masjien nodig is vir daardie masjien om te kan werk, net so is jy nodig sodat daardie plan deurgevoer kan word.
Jou lewe maak baie saak. Nog voordat die wêreld geskep is, is jy al uitverkies om heilig te wees, en is daar al bepaal watter goeie werke jy gaan doen (Ef. 1:4; 2:10). Ons lees in Psalm 139, dat God jou lewe tot in die fynste detail beplan het.
‘U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.’ Psalm 139:16
Jou missie moet dus wees om saam met God aan sy plan te werk deur binne sy wil te bly. Paulus sê in Efesiërs 5:17, dat ons moet probeer te wete kom wat die Here wil hê ons moet doen. Dit beteken nie dat jy duidelike instruksies te wagte moet wees oor groot lewensbesluite nie, maar eerder dat jy gedurig moet seker maak dat dit wat jy doen en sê, in lyn is met God se Woord, en dat jy Hom in alles verheerlik. Moses se gebed behoort ook ons s’n te wees:
‘Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom.’ Psalm 90:12
Gaan wees hierdie week, en elke dag daarna, jou eie unieke self. Want jy is deel van God se plan.
Geskryf deur Madeleine Venter