Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

Lente is om die draai. Hierdie seisoen word tradisioneel geassosieer met ´n nuwe begin, hoop, groei, nuwe lewe… en diëte! Jy is wat jy eet, en aan die einde van die winter is die meeste van ons ´n mengsel van winterbredies, warm poedings, beskuit en koppies stomende warm sjokolade. ‘n Goeie skans teen die koue, maar nou nie juis die resep vir ´n son-en-strand lyf nie.

En daarom pak baie van ons die nuwe seisoen met nuwe voornemens en ´n nuwe dieet aan. Jy is wat jy eet; en vars, groen slaai, laevet vleis, kleiner porsies en gesonde vrugteskommels skets beslis ´n meer rooskleurige prentjie. Wat jy eet het gevolge. Die kos op jou bord dra op meer as een manier, gewig. En ´n nuwe dieet – ´n nuwe benadering – is dalk net wat jy nodig het.

Jy is ook wat jy dink.

“Wees versigtig met wat in jou hart aangaan,” waarsku die Spreuke skrywer. “Wat jy dink, bepaal alles wat jy doen.”

Net soos jou bord kos, dra dit wat jy sien, dit wat jy hoor, dit waaraan jy aandag gee, ook gewig. Die gedagtes wat jy toelaat om in jou nes te skrop, dit wat jy oordink, bepaal wat jy doen, hoe jy optree, hoe jy reageer. Dit bepaal jou hele lewe. En net soos wat ons kan kies wat ons eet, en ons dieet kan beplan, kan ons eienaarskap neem van dit wat ons wil dink.

“Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak,” skryf Paulus. Ek hou van hierdie beeld. Om gedagtes, soos wat hulle by jou opkom, as’t ware aan die hakskeen te gryp en eers te ondersoek. Gaan dit my help om so te dink? Kom dit van die Here af? Is dit waar? Is dit nodig om hierdie gedagte deel van my leefwyse te maak? Of gaan dit my en my geliefdes afbreek? Is dit iets wat ek moet laat gaan? En hoe gaan ek dit doen?

Dis natuurlik soms makliker gesê as gedaan. ´n Nuwe dieet is geen grap nie. (Veral hier teen die tweede week.) En ´n leefstyl aanpassing verg soms ysere selfdissipline. Hoe keer jy dat negatiewe gedagtes in jou hart vastrapplek kry? Hoe weer jy dit af?

Trek elke dag jou wapenrusting aan, gee Paulus raad. Teenstand en versoekings is ons almal se lot. Kies daarom waarheid bo leuens, en geloof bo twyfel en onsekerheid. Hou vas aan jou vryspraak en vergifnis, en trek die bereidwilligheid om te getuig soos ´n paar goeie skoene aan. Laat verlossing jou gedagtes rig, en hou vas aan die Woord van God, die beloftes wat God vir sy kinders gee.

“Vind jou vreugde in die Here,” skryf Dawid. “En bêre die Skrif, die Woord in jou hart. Oordink dit dag en nag. Verheug jou in die Here se bepalings. Erken dit as die lig op jou pad, en die lamp vir jou voet. Moet daarvan nie afwyk nie.” Laat dit in jou groei, laat dit deel word van jou denke, jou besluite en jou manier van doen. Maak dit jou veilige hawe, jou pantser teen die aanslae van die lewe.

“The proof is in the pudding.” Jou eetgewoontes en leefstyl gaan wys hoe ernstig jy oor jou nuwe eetplan is. “Net so,” skryf Petrus, gaan jou leefstyl aan ander wys dat jy deur God geroep en gekies is. Sy Goddelike krag gee vir ons alles wat ons nodig het om naby aan Hom te leef. Deur hierdie krag het Hy die groot en wonderlike beloftes van God vir ons laat waar word. Leef so dat ander kan sien dat die beloftes van God vir jou waar geword het. Dan sal julle geloof meebring dat julle leefstyl goed is.”

Die wyse raad van menige eetplan is ook hier van toepassing. “You can do a lot for your diet.” En: It is not a short term diet. It is a long term lifestyle change.” Amen.