MATTEUS 24:36-44 (2020-vertaling)

Met die aanbreek van die Eerste Sondag van Advent betree die kerk van Christus die nuwe Kerkjaar. Dit maak ons bewus van ’n nuwe tydvak in ons geloofsbelewing en viering van God se verlossing vir die mensdom en skepping. Die Christelike Kalender herinner gelowiges God het ons geskiedenis en wêreld binnegetree. Vir ons meditasies in dié rubriek gedurende die 2025/26 Kerkjaar, sluit ons aan by die Revised Common Lectionary (RCL) se voorgeskrewe tekste vir Jaar A. Die evangelielesings vir Jaar A is uit Matteus se vertelling van die boodskap van God se verlossing deur Jesus Christus.

Die vier weke van Advent lei gelowiges in die gees van afwagting en verwagting deur die beweging van hoop na vreugde. Ons Skrifdeel vir oodenking is aan die einde van Matteus se verhaal. Volgens die opbou van die verhaal, handel Matteus 24 oor Jesus se profetiese uitsprake voordat Hy gevange geneem is (26:47) om aangekla, veroordeel en gekruisig te word. In terme van die Kerkjaar herdenking, bring Matteus 24 se eindtyd perspektief ons by ’n punt waar ons Skrifdeel ons op tweeledige wyse stimuleer om oor die beweging van ons Skrifdeel te besin. Binne die konteks van Advent roep Jesus se verwysing na “daardie dag” (vers 36) beide perspektiewe op van enersyds die viering van sy geboorte as mens op aarde, en andersyds die verwagting van sy tweede koms aan die einde van die tyd.

In vers 35 praat Jesus oor die einde van die hemel en die aarde, asook die onverganklikheid van sy woorde. Vers 36 sluit klaarblyklik daarby aan, asook by Jesus se woorde in vers 33: “…wanneer julle al hierdie dinge sien, weet dat dit naby is, voor die deur.” Tog stel Jesus dit onomwonde dat niemand kennis dra van “daardie dag en uur” nie. Net die Vader weet wanneer Jesus Christus weer kom, ook die eindoordeel. Jesus vestig sy dissipels (24:3) se aandag op die werklikheid dat die hemel en aarde soos hulle dit ken, tot ’n einde kom. Daar sal selfs sigbare tekens wees van die komende einde. Maar, dit is eweneens ’n feit dat niemand weet op watter dag en uur die einde aanbreek nie.

Wanneer die kerk van Christus in Advent met verwagting en hoop uitsien na die viering van Jesus se geboorte op Kersdag, asook verder die toekoms in verlang na sy wederkoms, moet ons Jesus se boodskap in ons Skrifdeel ter harte neem. Terwyl ons vier dat Jesus reeds gekom het en verwag dat Hy weer sal kom, moet dié hoop ons lewe hier en nou sodanig inspireer dat ons nie verlei word om allerlei tekens te soek om daaruit voorspellings te probeer maak oor die presiese dag en uur nie. In Advent koester ons die gees van hoop in die Here wat gekom het, wéér in die toekoms kom om sy volgelinge met die Vader te verenig, maar ook elke dag komende is in ons lewens hier en nou.

Daarom is Jesus se profetiese woorde aan sy dissipels in ons Skrifdeel uiters toepaslik vir Christus volgelinge aan die begin van ’n nuwe liturgiese jaar waar die gees van Advent ons harte en gedagtes met afwagting, verwagting en hoop vul. Ons kan ’n blaadjie neem uit die verhale van die Ou Testament wat Jesus vertel om sy dissipels te oriënteer vir hul daaglikse lewe en instelling op diens aan God en hul naaste. Ons kan nie die dag en uur voorspel nie. Dit kom onverwags, soos in die tyd van Noag met die sondvloed (vers 37-39). Daarom moet ons elke oomblik voluit leef asof daar nie ’n einde in sig is nie, maar ook bewus en voorbereid dat die einde enige oomblik kan aanbreek. Die wagwoord is waaksaamheid en die ingesteldheid is gereedheid.

In Advent roep Jesus ons op om vas te hou aan sy onverganklike woorde en dade van verlossing. Hy spoor ons aan tot waaksaamheid en gereedheid. Hy herinner ons aan die wesenlike perspektief dat ons hoop in Hom verlossingsvreugde bring, maar dat ons nie voorspellings oor die aanbreek van die dag en uur nodig het nie. “Die Seun van die Mens kom wanneer julle dit nie verwag nie” (vers 44).

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond

TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Eerste Week van Advent – Jaar A