Na aanleiding van Psalm 8 (lees 2020-vertaling)

Here, dit is die begin van Koninkrykstyd in die Christelike Jaar. In die week na Drie-Eenheid Sondag lei die Psalmis ons om te peins oor hoe U as Vader, Seun en Gees in en oor die hele aarde regeer. In dié Kerkjaar seisoen bedink ons Christus se koningskap en ons navolging van Hom.

Die Psalmis maak ons opnuut bewus van u heerlikheid op aarde, Here. Ons kan net, oorweldig deur u luister wat bo die hemelruim uitgaan, in die koor van gelowiges die mag van u Naam oor die hele aarde laat weerklink. Here, ons Heer, magtig is u Naam oor allles.

Here, terwyl die Psalmis die gemeenskap van aanbidders bewus maak van u magtige Naam, roep dié bidder my op om fyn waar te neem waar U u mag openbaar in die werk van u hande. Ek begin persoonlik u vingermerke sien in die hemelruim wat U kunstig gevorm het – maan en elke ster.

Here, en wanneer ek so na die hemelruim kyk en die glans daarvan my betower, raak ek opeens bewus dat ek brose mens, tog inpas in dié grootse ruimte van u skepping. Dan wonder ek oor my verhouding as eenvoudige mens, met U en met u luisterryke skeppingswerk. Wat is die mens?

My vraag oor die posisie van die brose en verganklike mens binne die omvangryke werklikheid van u skepping, Here, is onvermydelik. U gee aan die mens as u skepsel besondere verantwoordelikheid en selfs mag. U vertrou u werke aan die mens toe – om te beheers, stel dit selfs onder sy voete.

Here, ek besef opnuut wat U aan my en die ganse mensheid toevertrou. Ek wil so graag die opdrag aanvaar wat U aan my toevertrou; versorging van kleinvee en beeste, bewaring van diere, voëls en visse. Hoe heers ons as mense oor dit alles, as ons nie die wesensaard van u mag verstaan nie?

Dan hoor ek die Psalmis se getuienis oor die manier waarop u U mag oor die hele aarde openbaar. U doen dit sag en broos, Here. U kies nie die weg van aardse maghebbers nie. U stel U bloot soos kleuters en suigelinge. U kies die werkswyse van magteloses en vestig u heerskappy deur afhanklikes.

Here, ons Heer, magtig is u Naam deur afhanklike magteloses.
Amen

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
RCL JAAR A – EERSTE WEEK VAN KONINKRYKSTYD