‘In ons verbondenheid met Hom en deur ons geloof in Hom kan ons met vrymoedigheid en vertroue na God gaan … Daarom kniel ek in gebed voor die Vader’ Efesiërs 3:12,14
Paulus kniel in gebed, en vra dat God die Efesiërs innerlik sterk sal maak sodat hulle nie moedeloos word nie. Hy het die vrymoedigheid en vertroue om dit te doen omdat hy aan Jesus Christus behoort.
Jy, as ’n gelowige, kan daardie selfde vrymoedigheid hê. Jou verbondenheid en geloof in Jesus gee jou die toestemming om in sy Naam na die Vader toe te gaan. Luister wat sê Hy in Johannes 16:24: ‘Daardie dag sal julle nie meer vrae aan My stel nie. “Dít verseker Ek julle: Wat julle die Vader ook al in my Naam sal bid, sal Hy vir julle gee. Tot nou toe het julle nog nie in my Naam gebid nie. Bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.”’
Het jy ook al ’n baie belangrike persoon se direkte kontakbesonderhede by iemand gekry? Met ’n baie belangrike persoon, bedoel ek een van daardie mense na wie mens nie gewoonlik vrye toegang het nie.
Veronderstel jy het ’n probleem met jou bankrekening. Jou vriend, Piet, ken die Hoof Uitvoerende Beampte van die bank persoonlik. Hy gee sommer vir jou hierdie grootkop se selfoonnommer met die woorde: “Sê net vir hom jy het sy nommer by my gekry.” Piet weet die kanse dat daar aan jou versoek aandag gegee gaan word is dan groter. Jy gaan inderwaarheid na hom toe met Piet se naam.
Dit is presies hoe dit werk as ons in Jesus se Naam na die Vader toe gaan. Maar, anders as met mense, kan jy verseker weet dat daar aan jou versoek aandag gegee gaan word.
Daar bestaan nie so iets soos ’n onverhoorde gebed nie. Die antwoord op daardie gebed lyk net nie altyd soos wat ons verwag het dit moet lyk nie. Soms sê God, nie nou nie, nie só nie, of net eenvoudig, nee.
Onthou, God kan oneindig meer doen as wat jy bid of dink.
Gewoonlik sal jy nie die belangrike persoon aanhoudend lastig val noudat jy direkte kontak het nie. Met God word jy egter aangemoedig om Hom lastig te val. Kolossense 4:2 sê jy moet volhard in gebed.
As jy dan deur God self uitgenooi word om te bid, wat keer jou?
Dit maak nie saak wie jy is nie. Jesus sê: ‘Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.’ Mat. 7:7-8 (eie klem).
Mag jy van vandag af die vrymoedigheid hê om voor die Vader te kniel in gebed. Hy sal met liefde na jou luister.
Geskryf deur Madeleine Venter