Na aanleiding van Psalm 122 (lees 2020-vertaling)

Here, ons begin ’n nuwe Kerkjaar met die aanbreek van die Advent Seisoen in die Christelike Jaar. Die psalmis se blydskap oor sy geloofsgenote se uitnodigende oproep om na Jerusalem, plek van gemeenskaplike aanbidding
op te gaan, aktiveer die hoop van Advent in ons harte.

Here, die liturgiese seisoen en ons eie historiese situasie, plaas die fokus van die psalmis se opgaan na Jerusalem vir van Israel se godsdienstige feeste, op ons naderende viering van Jesus se geboorte met Kersfees. Advent vul ons
met hoop en afwagting, in u troosvolle teenwoordigheid.

Here, die wêreld gemeenskap van Christus se kerk, sien by die aanbreek van Advent reeds met verlange uit na die viering van Jesus se geboorte. Ons is meteens bewus van die blydskap wat in ons roer oor die geleentheid en voorreg om as gemeenskap van gelowiges u Naam te prys.

Met die aanbreek van Advent, Here, beleef u kinders nogeens die geleentheid om te besin oor die waarde en betekenis van, asook die noodsaak om aan U erkenning te gee vir die goeie wat U oor mense en u ganse skepping aanrig. Ons kom prys u Naam in blydskap, soos U voorgeskryf het.

Here, U vestig ons harte en gedagtes op u verlossingsdade wanneer U ons kerke se geloofspraktyk van die liturgiese kalender aanwend om mekaar tot aanbidding aan te spoor. Die viering van die Christelike Jaar skep vir ons ’n struktuur om U te onthou én U saam te aanbid. Ja, u Naam te prys.

En nou is ons saam in aanbidding voor U, Here. Ons het die simboliese poorte van Jerusalem betree, die ruimte vir gemeenskap met U. Ons herinner mekaar aan ons identiteit in Christus. U het ons in eenheid saamgebind as u liggaam. Ons moet mekaar aanspoor en dra in dié verbondenheid.

Die hoop en verwagting wat Advent opnuut binne ons aansteek, Here, maak ons ontstellend bewus van ’n wêreld om ons. Ons sien en beleef stryd, afguns en haat tussen mense. Dit versteur die eenheid waartoe U ons roep. Daarom bid
ons vir vrede in ons stede en wêreld – vrede binne ons self.

Kom saam, God se kinders. Laat ons die Here se Naam prys.
Amen

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond