MATTEUS 11:16-19, 25-30 (2020-vertaling)

Matteus se weergawe van Jesus se bediening in 3:1-26:1a ontvou in vyf dele (diskoerse). Die derde deel begin by 11:2 en loop tot by 13:53. In die derde deel van Matteus se vertelling kom die sterkste weerstand teen Jesus se werk aan die lig, vooruitskouend op sy komende verwerping in die Lydensverhaal (hfst. 26-27). In hoofstuk 11-12 bespreek Matteus ’n reeks vrae aan Jesus, sy reaksie daarop, twisgesprekke waarin Hy betrokke is en sy uitsprake van oordeel. In Matteus 11 kom Johannes die Doper se boodskappers na Jesus toe en vra Hom: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons iemand anders verwag?” (vers 3). In sy antwoord op dié vraag, neem Jesus vorige gesprekke oor Johannes die Doper as vertrekpunt en spreek die mense van “hierdie geslag” direk aan oor die afkeurende manier waarop hulle Die Doper en vir Jesus self ontvang, of nie ontvang het nie (vers 16-19). In vers 25-30 fokus Matteus vervolgens op die dubbele openbaring van die Vader en die Seun, aan elkeen vir wie die Seun Hom bekend wil maak (vers 27).

In die twee paragrawe van ons Skrifdeel kom belangrike temas aan die orde. Vers 16-19 gaan oor die mense se beskouing van wie Johannes die Doper en Jesus is; hoe die mense van “hierdie geslag” die profete van die koninkryk van God beoordeel. Jesus roep sy gehoor op om sy woorde te hoor en daarna te luister (vers 15). In vers 25 stel Jesus vir God bekend vanuit sy unieke verhouding as Seun van die Vader. Hier gaan dit oor die diep geheimenis van presies wat dit beteken om Jesus te wees. In sy omgang met mense besef Jesus ander mense het nie die kennis of bewussyn van die Vader waaroor Hy beskik nie. Daar is dinge oor die Vader waarvan Jesus alleen weet en net Hy aan mense kan meedeel. Daarom spoor Jesus sy hoorders aan om van Hom te leer (vers 29).

Die vraag van Johannes die Doper se boodskappers oor wie Jesus is en sy gesprek met die skare oor Johannes, vorm die basis vir Jesus se uitdaging aan sy toehoorders om opnuut na te dink oor wie Die Doper was. Hy ontbloot hul wanopvatting oor Johannes en Jesus se identiteit, deur hulle bewus te maak dat hulle die verkeerde perspektief op Johannes het. Hy was nie maar net een soos ander koninklikes wat hulle geken het nie. Johannes was anders: hy was ’n profeet. Maar, dan ook nie net enige ou profeet nie. Hy was dié profeet van wie vorige profete gepraat het. Johannes was die één wat deur God gestuur is met die doel om die weg voor te berei vir God se komende Messias. Dus, Jesus het nie bloot met die skare oor Johannes gepraat nie. Hy het met hulle oor Homself, oor sy unieke identiteit, gepraat. Hỳ is die Seun wat die Vader ken en wie die Vader aan elkeen bekend maak aan wie Hy wil (vers 27).

Jesus het met sy bediening ontdek “hierdie geslag” wou nie hoor wat Hy hulle vertel het nie. Die meerderheid het Hom regstreeks weerstaan, of verskonings aangebied om nie in Hom te glo of Hom te volg nie. Die mense het van Jesus gesê: “Kyk, Hy is ’n vraat en ’n suiplap, ’n vriend van tollenaars en sondaars.” (vers 19). Jesus het gaandeweg meer bewus geword daarvan dat Hy mense laat sien het wie die lewende God is. Waar Jesus liggaamlik teenwoordig was, asook deur sy woorde van lering en verkondiging, het mense almeer gesien wie “die Vader” werklik is. Jesus het die sluier weggetrek en die waarheid oor God openbaar: “Alles is deur my Vader aan My toevertrou…” (vers 27).

Daarom Jesus se uitnodiging: “Kom na My toe… en leer van My” (vers 28-29). Jesus se oproep aan almal wat moeg en oorlaai is om sy sagte juk op te neem, is ’n oproep om ons beperkinge te erken, sy gesag te aanvaar, en bereid te wees tot volkome diensbare dissipelskap. Omhels dié uitnodiging.

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Sesde week in Koninkrykstyd – Jaar A