Jare gelede gaan kuier ons een Saterdag met ons (toe nog baie jong) kinders by vriende vir die dag. Teen laat middag, toe ons aanstaltes wil maak om te ry, bars daar onverwags ´n allemintige storm los. Ons besluit om te wag tot die ergste reën verby is, maar na ´n rukkie besef ons dat dié storm nog lank nie uitgewoed is nie. Dit sous behoorlik. Dis nou of nooit, besluit ons, en bondel ons kinders in die motor vir die tog huis toe.
Ons is egter te laat: die driffie waardeur ons moet ry om weer by ons wildtuin te kom, is reeds in vloed. Dan anderkant om. Maar weer word ons gestuit deur riviere wat binne ´n ommesientjie afgekom het. Ons bekende grondpad lyk plek-plek soos ´n dam. Al raad is om maar terug te draai. Ons kyk of ons darem iets in die ry van aandete kan opspoor, maar die geriefswinkel by die vulstasie het net lekkergoed en alles is verder reeds gesluit. Ons is letterlik gestrand. Ek stuur versigtig vir my vriendin ´n boodskap. “Ons moes terugdraai…” Natuurlik het ons niks by ons: nie klere nie, en nie kos nie. En die kinders is moeg, knorrig en honger. Haar antwoord is kort en kragtig. “Just come!” Kom net! Kom net so. Kom!
Ek kan steeds onthou hoe dankbaar en welkom dié woorde my laat voel het. Verlig. Ons het ´n heenkome gehad. Teen die tyd dat ons weer in die gietende reën by hulle huis aankom, is daar reeds vir ons beddens (met skoon nagklere) voorberei en aandete is gereed. Ons kon maar ontspan. Dit was nie moeite of ongerief nie.
Ek het deur die jare dikwels oor haar woorde (en die effek daarvan) nagedink, en gewens dié twee woorde kan bokant elke kerk se deur staan. In vetgedrukte hoofletters. Just come. Kom net. Hier, is jy welkom. Of jy nou baie bagasie het, of (soos in ons geval), net mooi niks nie, jy mag maar inkom. Ons sal nie oordeel nie. Ons almal staan gereed om jou met ope arms te ontvang. Welkom, welkom, kom maar binne. Alles is reg vir jou. Jy hoef nie te wag totdat al die deure vir jou toeslaan en die paaie onbegaanbaar is nie. Die kerk is nie die laaste uitweg nie. Dit is ´n tuiste vir almal wat moeg en oorlaai is, almal wat die teenwoordigheid en aangesig van die Here wil aanroep.
Ek dink ons behou soms vir onsself, en vir ander, die reg van toegang voor. Jy kan kom as… Wanneer… Jy kan kom, maar… Ek is nie reg nie. Wat as…? En tog sien God nie die uiterlike raak nie. Hy sien jou soekende hart, jou innerlike nood. Hy weet wanneer jy gestrand is. Hy wil vir almal wat Hom aanroep, en almal wat in Hom glo, die reg gee om kinders van God te wees.
In die tyd van Paasfees kan ons terugdink aan Jesus se kruisiging en aan die misdadiger wat langs Hom aan die kruis gehang het. “Moenie bekommerd wees nie,” het Jesus vir die man gesê. “Ek oordeel jou nie verder nie. Vandag nog sal jy saam met my in die paradys wees.” Laat ons mekaar groet met dié woorde: Kom net.
Geskryf deur Susan Goosen