JOHANNES 1:29-34 (2020-vertaling)

In die tweede week ná Epifanie onthou ons Epifaniefees as oudste en belangrikste Christelike fees van die Kerk. Ons onthou die Kerk se tradisionele herdenking gedurende die Epifanie seisoen van drie gebeurtenisse in Jesus se lewe: besoek van die sterrekenners (Matt 2:1-12), Jesus se doop (Mark 1:9-12), en wonderlike voorsiening van wyn by die bruilof te Kana (Joh 2:1-11). Dié week laat Revised Common Lectionary ons nogeens vertoef by Jesus se doop deur Johannes die Doper, soos die evangelis Johannes, na afloop van die gebeure daaroor skryf. Die Johannes-evangelie beskryf nie die werklike gebeure by Jesus se doop, soos die Sinoptiese Evangelies, nie (Matt 3:13-17; Mark 1:9-11; Luk 3:21-22). Johannes se weergawe is ’n getuienis en belydenis deur die Doper self, van wat gebeur het en hoe Jesus se doop sy vroeëre boodskap bevestig en sy verstaan van wie Jesus is gevorm het.

In Johannes 1:26-27 antwoord die Doper sekere priesters en Leviete uit Jerusalem, wat wou weet wie hy is (vers 19) en waarom hy dan doop (vers 25): “…maar in julle midde staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie. Hy is die Een wat ná my kom en ek is nie werd om die riempies van sy sandale los te maak nie.” In ’n vorige meditasie oor Jesus se doop na aanleiding van Matteus 3:13-17, het ons nagedink oor die ontmoeting tussen Jesus en die Doper by die Jordaanrivier, waar die Doper Jesus as’t ware teengegaan het: “Ek behoort deur U gedoop te word, en U kom na my?” (Matt 3:14) Dat Jesus Homself tussen sondaars plaas, moes Johannes verwar het. Kan die Seun van God aandring op vergewing van sonde? Hier, verhaal Johannes 1:29 nog ’n ontmoeting tussen Jesus en die Doper, die dag ná Jesus se doop. Nou kan die Doper terugskouend interpreteer wat die vorige dag gebeur het.

Wanneer Jesus op dié dag na Johannes toe kom, is dit asof daar vir die Doper ’n helder lig opgaan. Hy word bewus van hoe sy woorde in vers 27 oor “Een wat ná my kom,” betrekking het op Hom wat hier na hom toe kom (vers 29) en dit wat hy die vorige dag by die Jordaanrivier beleef het (vers 32). Voor Jesus se doop, het Johannes nog nie vir Jesus geken (vers 33) en geweet dit is Hy na wie hy self verwys het as die “Een wat ná my kom nie”. Die Doper onthou ook wat God, wie hom gestuur het om te doop, vir hom gesê het oor hoe hy die Een wat ná hom kom om met die Heilige Gees te doop, sou kon identifiseer: “Hy op wie jy die Gees sien neerdaal en bly” (vers 33). Wanneer al dié oënskynlike los punte bymekaar kom in die oomblik van ontmoeting tussen Jesus en die Doper, getuig die Doper van wat hy gesien het en wat hy nou wéét: “Hy is die Seun van God” (vers 34).

Met Jesus se aankoms by Johannes die Doper (vers 29), identifiseer die Doper die Seun van God met die benaming ‘Lam van God’ en die funksie wat Jesus as God se Gestuurde op aarde kom vervul het: “…die sonde van die wêreld wegneem.” Wanneer die Doper Jesus identifiseer as ‘Lam van God’, roep hy die ryk tradisie van Ou-testamentiese godsdienstige offerpraktyke na vore. Johannes se pa, Sagaria was ’n priester en sy ma, Elisabet uit die nageslag van Aāron. Die Doper sou in sy geestelike vorming en opvoeding deeglik kennis neem van offers in die tempel vir die vergewing van sondes deur die simboliese offer van lammers. Die slag van ’n offerlam was bedoel as plaasvervangende offer vir die vergewing van sonde in die plek van die sondaar mens. En nou wys die Doper na Jesus en kondig aan: “Kyk die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” (vers 29).

Met dié benaming kondig die Doper aan dat Jesus in ons plek geoffer is sodat ons sondeloos voor God kan staan. Die Doper kondig ook aan dat Jesus as die ‘Lam van God’ die Een is na wie sy doop met water gewys het en waartoe; die vergifnis van sonde. Die Doper wys ook vooruit na Openbaring 5 waar die Lam soos een wat geslag is die boekrol neem om die betekenis van die wêreld- en verlossingsgeskiednis uit te lê – te vervul. Hy is die Lam wat geslag is en op die troon sit (Op 5:12-13).

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond

TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Tweede Week na Epifanie – Jaar A