‘Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle moet my getuies wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria, en tot aan die einde van die aarde.” Toe Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle toekyk, en ‘n wolk het Hom uit hulle gesigsveld weggeneem. Terwyl hulle, soos Hy weggaan, stip na die hemel bly kyk, staan daar meteens twee mans in wit klere by hulle en vra: “Galileërs, waarom staan en staar julle na die hemel? Hierdie Jesus, wat van julle na die hemel weggeneem is, sal net so terugkom soos wat julle Hom na die hemel sien weggaan het. ”’ Handelinge 1:8-11

Wanneer ons Jesus se Hemelvaart herdenk, is daar drie belangrike waarhede waaraan ons weer onsself behoort te herinner.

Die eerste is dat Hy weer gaan terugkom.

Die tweede is die belofte van die Heilige Gees.

En die derde is Jesus se laaste opdrag:

‘Gaan dan en maak dissipels van al die nasies, deur hulle te doop in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees,’ Matteus 28:19

Jy kan sy opdrag uitvoer in die krag wat die Heilige Gees jou gee, en jy voer dit uit met die oog op sy wederkoms.

Wat jy met Jesus se laaste opdrag doen, bepaal dalk die woorde wat jy gaan hoor wanneer Hy weer kom. Gaan Hy jou prys omdat jy gewoeker het met die geleenthede en gawes wat Hy jou gegee het? Of gaan Hy jou berispe daaroor dat jy jou nie aan sy opdrag gesteur het nie? (Mat. 25:14-30)

Hoe ernstig neem jy Jesus se opdrag op? Eintlik alles wat jy sê en doen behoort daarop gemik te wees. Met die unieke gawes en talente wat jy ontvang het, kan jy die Evangelie op ’n unieke manier verkondig – daar waar die Here jou geplaas het, onder die mense wat hy deel van jou lewe gemaak het.

En wanneer die lewe moeilik raak, en jy moeg raak daarvoor om goed te doen, kan jy met verwagting opkyk. Jou Koning gaan weer terugkom. Jou harde werk is nie tevergeefs nie. Daar wag skatte in die hemel. ’n Oorwinnaarskroon. En ’n ewigheid saam met God.

Geskryf deur Madeleine Venter