Na aanleiding van Psalm 31:10-17 (lees 2020-vertaling)

Here, hier aan die begin van die laaste week in Lydenstyd van die Christelike Jaar, gryp die woorde van die psalmis my diep in die hart. Die bidder se gesmag na u genade uit sy benoudheid en verdriet, herinner ons aan alles wat die Groot Lydensweek en Jesus se passie verteenwoordig.

Here, in die lig van ons Christus gelowiges se herinneringe aan alles wat die Seun van God moes ontbeer as mens op aarde, is dit haas ondenkbaar om dié psalmis se lament op ons eie lewe toe te pas. Die beskrywing van sy onmenslike lyding en vernedering, ken ek nie. Dit is ver van my.

Maar, Here, al kan ek nie eerlik saampraat oor die ervaring van geswelde oë as gevolg van verdriet, of van my lewe wat weg kwyn nie, vertel die verhaal oor Jesus se passie (lyding) van gruwels wat Jesus tot aan die kruishout moes verduur. Ja, vir my persoonlik, én vir elke sondaar mens.

Here, wat die psalmis met gru beelde beskryf, vul my met afsku en ontsetting. Terwyl Groot Lydensweek ons sensitief maak vir Jesus se ontsaglike lyding ter wille van die redding van mense, bombaardeer die media ons weer daagliks met ondenkbare menslike lyding aan die hand van medemense.

Beelde wat televisie en sosiale media tot in ons huise bring en in ons hande plaas, Here, maak die psalmis se ervarings konkreet en gee daaraan ’n eietydse karakter. Dit wys ons hoe magtige mense van ander ’n bespotting maak en hoe mense deur geweld van oorlog in vergetelheid wegsink.

Here, al kan ek nie vandag Psalm 31 bid vanuit eie ervaring nie, weet ek die bidder is eg in wat hy/sy voor U kom lê. Ek sien voorbeelde van mense wat presies dit beleef waarvan hy praat. Jesus se lyding herinner my in hierdie dae opnuut aan die afskuwelikhede waartoe mense in staat is.

Daarom wil ek tog vandag by die psalmis aansluit, Here. Ek bid vir myself om vergifnis, omdat ek moontlik ’n aandeel daarin mag hê dat mense deur my toedoen ’n bespotting word en dat ek mag veroorsaak dat goeie herinneringe van mense wat U dien, vergeet word.

Here, ek bid ook vandag om my dank aan U te bring vir wat Jesus vir my persoonlik en elke ander mens gely het. U het my/ons verlos in u troue liefde. Amen.

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
RCL JAAR A – GROOT LYDENSWEEK