Gebed na aanleiding van Psalm 137 (lees 2020-vertaling)

Here, vandag se gebed peins oor die diep ervaring van verlies. Die psalmis laat ons deel in u verbondsvolk se ervaring as ballinge by die riviere van Babel. Die vyand wat hulle weggevoer het wil ’n Sionslied hoor, maar die woorde stol in die ballinge se kele.

Die vraag waarmee die ballinge worstel daar in die vreemde, Here, is die vraag na geloofstaal in ’n tyd van verlies en totale disoriëntasie. Hoe sing mens Jahwe-liedere in ’n vreemde land wanneer Sion vir ons verlore voel? God is weg, alles het ingeplof!

Here, ons bid vandag tot U in die soekende woorde van die psalmis wat moedeloos in Babel sit en ontdek dit is nie tyd vir opgewekte liedere nie. Ons tyd is óók ’n tyd waar mense in ballingskap geneem en van geloofsraamwerke losgeruk word. Waar is U?

Here, in tye van diepe verlies en verontmensliking, ontdek gelowiges dat die ABC van ons geloofsalfabet alternatiewe woordeskat skep wat ons in staat stel om ander liedere te sing wat steeds getuig van u teenwoordigheid; klaagliedere wat protesteer.

Hoe kan ons Jahwe-liedere sing wanneer Israel en Palestina in Gaza slaags is? Hoe kan ons die Here se liedere sing as Rusland die grondgebied van Oekraïne bly aanval? Hoe klink Jahwe-liedere in Amerika met ’n president wat die wêreld-orde herdefinieer?

Dankie vir die geloofserfenis van voorgeslagte, Here. Dankie vir die geloofstaal van die ballingskap generasie wat vir ons die geskenk van lament nagelaat het. Klag, protes en selfs vervloeking met die formule van die saligspreuk, skep moontlikhede om U te vind.

Here, terwyl ons ’n tydperk beleef waarin dit voel of Sion as simbool van ons geloofsraamwerk disfunksioneel geword het, dank ons U vir die herinneringe aan u teenwoordigheid in Jerusalem – in ons eie lewe en tye waar ons nog u handewerk kon herken het.

Here, ons is ontwrig en kwaad! Wys Uself vir ons in dié omstandighede asseblief. Ons wil U nie vergeet nie. Amen