Na omtrent twee maande se trek vanuit Egipte deur die woestyn, het die Israeliete by die berg Sinai (ook genoem Horeb) aangekom. Hier het hulle vir amper ’n jaar lank gewoon – in die ongenaakbare wildernis – terwyl die beloofde land slegs elf dae se reis weg was (Duet. 1:2).

Die rede daarvoor was om hulle te leer wat dit sou beteken om God se uitverkore volk te wees. Hier het hulle God ontmoet en gehoor hoe Hy wou hê hulle moes lewe.

In die woestyn moes die volk ook leer dat hulle afhanklik is van God, en het hulle beleef hoedat hy wonderbaarlik in hulle behoeftes voorsien.

Toe kom die dag waarop die Here aankondig dat hulle woestyntydperk verby is:

‘“Die Here ons God het by Horeb vir ons gesê: ‘Julle het nou lank genoeg by hierdie berg gebly.’ Deuteronomium 1:6

As jy die gedeelte verder lees, sal jy sien dat Hy hulle daarna aangemoedig het om die beloofde land in te neem. ’n Mens sou dink dat hulle, na só lank in die woestyn, hierdie uitnodiging met ope arms sou verwelkom, maar hulle het nie:

‘“Maar julle wou nie optrek nie. Julle het julle verset teen die opdrag van die Here julle God. Julle het in julle tente bly sit en mor, en julle het gesê: ‘Omdat die Here ons haat, het Hy ons uit Egipte laat trek om ons aan die Amoriete oor te gee sodat hulle ons kan uitroei.’ Deuteronomium 1:26-27

As gevolg hiervan, het hulle vir die volgende veertig jaar in die woestyn rondgetrek, totdat daardie hele geslag (behalwe vir Kaleb en Josua) uitgesterf het.

Soms word ons ook die woestyn in gelei. Daar waar oorlewing ’n uitdaging is. Waar jy uitgelewer word aan ongenaakbare wreedheid. Waar jy opnuut besef dat net God alleen jou hierdeur kan dra. ’n Woestyntyd.

Dit is ook waar jy God ontmoet en by Hom leer – net soos die Israeliete by Horeb.

Maar dan kom daar ’n tyd wanneer God sê dat jy nou lank genoeg in die woestyn was, en dat dit tyd is om jou beloofde land binne te gaan.

Moenie soos die ongelowige geslag Israeliete maak nie. Moenie te bang wees om die woestyn agter te laat en jouself vorentoe te strek na die lewe wat Hy vir jou beplan het nie. Al lyk dit hoe onmoontlik.

‘Ons sien dus dat hulle as gevolg van hulle ongeloof nie in sy rus kon ingaan nie.’ Hebreërs 3:19

God het jou nie die woestyn ingelei om vir die res van jou lewe daar te bly nie. Hy gaan jou nie ’n dag langer as wat nodig is, daar laat wees nie.

Al wat jy moet doen, is om in geloof daardie tree te neem, en te vertrou dat jy dít kan doen waarvoor Hy jou voorberei het. En dan verklaar jy saam met Kaleb:

‘… “Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kán dit doen.”’ Numeri 13:30

Geskryf deur Madeleine Venter