Lekkerste vir laaste

Die immergewilde Mary Poppins het ’n lepeltjie suiker as teenvoeter vir slegte medisyne gebruik. Vir party van ons is daardie lepelvol suiker ’n warm bad na ’n lang dag, of ’n glas yskoue water na ’n harde oefensessie. Die seevakansie aan die einde van die jaar. Daardie beloning wat jou laat oё toeknyp en sluk, wat jou laat uithou en aanhou, selfs wanneer dit voel asof die einde nooit gaan aanbreek nie.

Wat sou ons daarsonder doen? Sou ons ooit eksamens, half-marathons of huisverbeterings aanpak as ons nie geweet het dat daar ’n beloning in die een of ander vorm aan die einde wag nie? En hoeveel murg sou ons werklik in ons pype hê as daardie beloning sommer aan die begin vir ons gegee is? ’n Draairoomys nog voordat jy jou voete op die baan gesit het, goeie uitslae sonder dat jy ’n vinger verroer het.

Die vergoeding, die hoop, dryf ons. Dit motiveer ons, dit plaas die swaarkry en seerkry in perspektief. Ons trek vasberade die boek, verfkwas of grassnyer nader, want ons weet – die eindproduk gaan die moeite werd wees. Die moeite werd om voor te swoeg en te sweet, te kreun en te steun.

Soms is die uitdaging nie een wat ons gekies het nie. Wanneer jy vir ’n kursus inskryf of daardie staptog aanpak, weet jy in ’n mate waarvoor jy jou inlaat. Jy is bewus van die lang nagte, die min slaap en die ekstra kilometers. Jy kan jou lyf vet smeer, die koffiefles gereed hou. Jy weet: hierdie sal verby gaan. Dit sal weer beter word.

Maar ’n mens beplan nie vir ’n motorongeluk, ’n gestremde kind, ’n siekbed of afleggings by die werk nie. Dié swaarkry oorval jou dikwels sonder waarskuwing, sonder om toestemming te vra. Daar is nie ’n definitiewe beloning, ’n wortel voor jou neus nie. “Ek is jammer, ons kan niks vir jou kind doen nie.” Of: “Dit kan ongelukkig nie anders nie, ons moes dit doen.” Finaal. Onomkeerbaar. Die kruis wat jy moet dra, moontlik vir altyd. “Ek verdien dit nie,” wil jy sê. “Ek het nie hiervoor gevra nie.”

So ’n situasie herdefinieer die begrip “uithou en aanhou”. Dit dwing jou om verder te kyk as die hier en nou. Want hierdie berg wat jy moet klim, gaan nie môre weg wees nie. Dit gaan nie soos mis voor die môreson verdwyn nie. Iets, of Iemand, anders moet jou nou motiveer, jou laat aanhou hoop.

Ons kan baie by Paulus leer oor volharding. “Ek jubel oor swaarkry,” het Paulus aan die gemeente in Rome geskryf. “Die swaarkry leer my om te volhard. Die volharding kweek karakter en dit versterk weer my toekomsverwagting.” Paulus het geglo dat die swaarkry wat hy so dikwels ervaar het, sy spiere, karakter en geloof gebou het. Dit het hom op ’n ander manier na die toekoms laat kyk. Hierdie toekoms waarop ons hoop, verseker Paulus ons, sal ons nooit teleurstel nie. Dit sal beslis geen antiklimaks wees nie.

“Al wat my staande hou,” het ’n ma gesê na haar kinders in ’n gru-ongeluk was, “is ’n ewigheidsperspektief.” Paulus beaam dit. Om Christus te ken, oortref alles in waarde. (Fil 3:7–8). Die swaarkry wat ons nou beleef, kan glad nie vergelyk word met die heerlikheid wat daar op ons wag nie. Ons sien reikhalsend uit na hierdie heerlikheid. As jy iets het, hoef jy mos nie daarna uit te sien nie. Maar ons, ons wat nog nie hierdie heerlikheid ervaar nie, kan met ons hele wese daarna uitsien (Rom 8).

Die helde in Hebreёrs 11 dien as verdere motivering. “Geloof is die vaste versekering dat die dinge waarna ons uitsien, wel sal gebeur.” Omdat hulle geglo het in iets wat hulle nie kon sien nie, het Noag ’n ark gebou, Abraham en Sara hul besittings opgepak en Moses dit gewaag om voor die Farao te verskyn. Baie ander name word ook genoem. “En,” verseker die skrywer ons, “nie een van hierdie mense het in hul leeftyd ten volle verkry wat God beloof het nie. God het vir hulle iets beter beplan in die lewe hierna.”

Jou uitdaging is wel ’n wedloop, sê Paulus. Nie ’n half-marathon of ander resies nie, maar ’n geestelike wedloop. Om jou liggaam in te span vir ’n kwalifikasie, ’n wedstryd, hou wel waarde in. Maar om jou geestelike spiere te oefen, hou ewigheidswaarde in. (1 Tim 4:7–8).

Daar sal dalk lyding, honger, vervolging, koue of gevaar oor ons pad kom. Of egskeiding, dood, inbraak of aanranding. Maar, belowe die Woord, hierdie uitdagings kan nooit tussen ons en God kom nie. Op geen manier kan dit wat gebeur, ons van sy groot liefde skei nie.

“Hou moed,” wil Paulus sê. “Moenie tou opgooi nie. Wat geen oog gesien het nie, wat geen oor gehoor het nie; wat in niemand se hart opgekom het nie – dit het God voorberei vir hulle wat Hom liefhet.” Wanneer dit sleg gaan kan jy weet, dit sal weer beter gaan. En wanneer dit baie goed gaan moet jy onthou, die beste kom nog. God hou vir sy kinders die lekkerste vir laaste.

 

Susan Goosen

Share this post